OUDTSHOORN NUUS - Hulle kan nie wag vir Woensdae om aan te breek nie.
So sê 'n groep bejaarde vroue van Bridgton wat aan die Elderly Crime Prevention Desk (ECPD) behoort, en elke Woensdagoggend vir drie ure van genot by die St Simons Anglikaanse Kerk bymekaarkom.
Hulle doen oefeninge, brei, borduur, hekel, luister na praatjies wat deur die polisie en ander departemente aangebied word.
Volgens die voorsitter, Miriam Daries, behoort sowat 50 vroue aan ECPD wat elke Woensdagoggend tussen 09:00 en 12:00 bymekaarkom en deur die Oudtshoorn-polisie ondersteun word.
"Ons het ook ons eie trompoppies wat gereeld by spesiale geleenthede soos Vrouedag, Jeugdag en ander gemeenskapsaktiwiteite optree," sê Daries.
Volgens ao. Leilah Claassen, koördineerder van ECPD, word daar maandeliks bewusmakingspraatjies ten opsigte van veiligheid en misdaadvoorkoming deur die polisie gelewer.
Amptenare van die departement maatskaplike dienste en die departement van gesondheid besoek ook die groep van tyd tot tyd om belangrike inligting oor te dra.
Volgens Susan Ajamp (78) geniet hulle die weeklikse samekoms en waardeer veral die polisie se betrokkenheid en besorgdheid oor senior burgers.
Alle vroue is welkom om by hulle aan te sluit.
"Dit is gratis en ons is nie verbonde aan enige kerk of denominasie nie. Vroue van alle gelowe is welkom om by ons aan te sluit."
Skakel Daries by 076 3115 813 of ao. Claassen by 079 4609 512 vir meer besonderhede.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'