LADISMITH NUUS - Die winsgewende, onwettige dwelmhandelbedryf in die Suid-Kaap is verlede week 'n swaar slag toegedien met die konfiskering van onwettige dwelms ter waarde van meer as R200 000.
Dit vorm deel van doelgerigte operasies wat regoor die Tuinroete-distrik uitgevoer is om die rug van dwelmhandel te breek.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, lt.kol. Malcolm Pojie, is 'n dwelmhandelaar in hegtenis geneem na daar R35 000 se tik in sy rektum gevind is. Dit vorm deel van die R200 000 se dwelms wat gevind is.
"Die verdagte is op pad na Ladismith deur wakker lede van die Ladismith-polisie in hegtenis geneem. Hulle het op inligting van die gemeenskap gereageer. Die lede het die taxi afgetrek en deursoek en toe op die tik afgekom. Hy het reeds Vrydag in die Ladismith-landdroshof verskyn."
Volgens Pojie het die Wes-Kaapse polisiebestuur die lede vir hul toewyding bedank.
"Hierdie arrestasies en beslagleggings is in lyn met die polisiëringsprioriteite van hierdie provinsie, veral gedurende die Veiliger Feestyd-projek."
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Karoo nuus'