LADISMITH NUUS - Sewe persone tussen die ouderdom van 21 en 52 jaar is die afgelope week op Ladismith in hegtenis geneem op verskeie aanklagte vir besit en handeldryf in dwelms.
Die persone is, volgens ao. Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith-polisie, tydens verskeie operasies in hegtenis geneem en daar is in totaal op 115 Mandrax-tablette en 68 tikstrooitjies beslag gelê.
"Lede van die Ladismith-polisie, het op 12 November 'n bekende dwelmbaas se huis deursoek. Daar is op 10 banksakkies tik beslag gelê. Op Donderdag 14 November is 'n huis in Rocco Ferusstraat deursoek waar 60 daggabome gevind is.
"Op Vrydag 15 November is 'n huis in Eerstelaan, Zoar deursoek en Mandrax en dagga is gekonfiskeer. Dieselfde dag is 'n huis in Donsonlaan deursoek en 200 gram dagga is op beslag gelê. Op Sondag 17 November is twee huise in Zoar deursoek. Beslag is gelê op 52 daggabome."
Volgens hom het die voorsitter van die Ladismith-GPF sy dank en waardering teenoor die polisie uitgespreek. Die waarnemende stasiebevelvoerder, kapt. Henry Edwardes, het gesê die polisie gaan hul fokus verskerp gedurende die opkomende feesseisoen.
Hy het die gemeenskap gevra om voort te gaan om inligting aan die polisie te gee.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'