OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit, in samewerking met die Suid-Afrikaanse polisiediens en die gemeenskapspolisiëringsforum, verskeie skole in Dysselsdorp en ander beleggers het onlangs 'n nuwe satelliet plaaslike dwelmaksiekomitee gestig.
Twaalf Dysselsdorpers is tydens die geleentheid gekies om op LDAC se komitee te dien.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van munisipaliteit, is die komitee, wat in kort as die LDAC (Local Drug Action Committee), bekendstaan, by die Dysselsdorp Thusong-sentrum gestig en sal dit deel van Oudtshoorn se LDAC-tak vorm.
"Inwoners van Dysselsdorp was baie opgewonde oor die nuwe inisiatief om die gemeenskap en individue wat met dwelm- en alkoholverslawing sukkel, te help. Patrick Blaauw, maatskaplike beampte van die munisipaliteit, het verduidelik dat dit belangrik is om so 'n inisiatief in Dysselsdorp te begin, omdat daar groot kommer oor die jeug van Dysselsdorp heers.
"Daar is 'n groot toename in die gebruik van dwelms onder die jeug en solank daar 'n mark vir die verkoop en die gebruik van dwelms is, gaan die probleem vererger."
Volgens Mle is die doel van LDAC om die gemeenskap te ondersteun en bewusmaking oor die gevare van dwelms en drank te skep.
PJ Badenhorst Primêr se skoolhoof, Enrique Pietersen, het ook die geleentheid bygewoon en gesê dat almal moet help om die kinders se volle potensiaal te ontwikkel en hulle help om die regte keuses in die lewe te maak.
Leon Campher, onderburgemeester, het op sy beurt gesê dat die gemeenskap van Dysselsdorp nie moet vergeet waar hulle vandaan kom nie en dat hy enigiets sal doen om die dwelmpandemie in Dysselsdorp te ondersoek en oop te vlek.
"Ons kan eenvoudig nie terugsit en toekyk hoe ons jeug agteruitgaan nie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'