OUDTSHOORN NUUS - Agri Klein Karoo se rampverligtingsfonds het 'n hupstoot gekry met die skenking van R25 000 van Dryland Management.
Die Klein Karoo Disaster Relief is in September deur Agri Klein Karoo geskep met die doel om skenkings aan alle boere in die droogtegeteisterde gebied te hanteer.
Henco Rademeyer, Carel Herholdt en Bernard le Roux, die direkteure van Dryland, het Maandagoggend 'n simboliese tjek aan Joey Potgieter, voorsitter van Agri Klein Karoo oorhandig.
"Op die vooraand van die jaarlikse week lange Momentum Health Cape Pioneer Trek is dit vir ons belangrik om 'n bydrae te maak om boere in nood by te staan," sê Rademeyer.
"Die boere laat ons toe om ons besigheid op hulle grond te bedryf, en besighede moet die boere ondersteun wat so 'n groot bydrae tot ons dorp se ekonomie lewer. Veral in tye van nood is dit almal se plig om te help."
Potgieter het sy dank namens Agri Klein Karoo uitgespreek. "Die geld is 'n groot donasie en dit word geweldig waardeer in die gebied wat tans in die greep van die ergste droogte ooit is.
Die fondse sal aangewend word vir die aankoop en vervoer van voer wat onder die boere versprei sal word."
Laubscher Coetzee, Agri Klein Karoo se verteenwoordiger by Agri Wes-Kaap, het Dryland Events ook namens Agri Wes-Kaap, wat by Agri SA affilieer is, bedank.
Die meeste van sowat 300 boere in die Klein-Karoo het tot dusver voordeel getrek uit die skenking van voer van elders in die land wat deur die bemiddeling van verskillende instansies bekom en afgelewer is.
Vir meer inligting oor die rampfonds, kontak Helen Butler by AKK se kantoor by 044 279 1425 of info@agrikleinkaroo.com, of Laubscher Coetzee by 082 898 5941 of info@kandrift.co.za. Alle skenkings kan van belasting afgetrek word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'