CALITZDORP NUUS - Die wynbedryf is die afgelope naweek 'n venynige knou toegedien toe temperature oor die naweek gedaal het en laagliggende wingerde en vrugteboorde in Calitzdorp Sondagoggend deur ryp getref is.
Volgens Johan Fourie van JLA Boerdery en direksielid van Calitzdorp-kelders, was Sondag se onverwagte ryp 'n harde slag vir wingerdboere.
"Na langdurige droogte en die Covid-aanslag is nog ’n spyker in wingerdboere se bedryf geslaan toe die temperatuur op 3 Oktober tot 1 graad gedaal het wat ’n swaar rypneerslag op laagliggende dele veroorsaak het.
Na raming is tussen 60% en 70% skade in sommige wingerde waargeneem. Dit is die ergste rypskade wat Calitzdorp in ‘n lang tyd beleef het. Na ‘n mooi herstel in tonne opbrengs van wingerde in 2021 was die vooruitsigte belowend vir ‘n goeie oes vir 2022."
Boets Nel van De Krans het bevestig dat die ryp dié tyd van die jaar 'n ongewone verskynsel is en dat veral wingerdblokke nader aan die Gamkarivier deurgeloop het. Volgens hom mag sommige kultivars weer uitbot en vrugte dra, maar dan sal dit waarskynlik nie meer as 20% van 'n normale oes wees nie. Hy noem dat hulle gelukkig voor Sondag se koue kon besproei en dat dit hulle skade verminder het. Die ryp het egter hulle appelkoosbome benadeel en hulle kan dalk tot 20% van hulle appelkoosoes verloor.
Carel Nel van Boplaas sê hulle het ook groot skade gehad met vroeë kultivars. "Met Colombar het sommige blokke tot 40% skade gely, veral laer af teen die rivier. Van ons Muskadel-blokke het tot 30% skade gekry en sommige blokke Chardonnay het 20% skade gely. Daar was geen skade aan laat-kultivars nie.
Een van die laagliggende wingerdblokke wat skade gely het. Foto's: Johan Conradie
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'