OUDTSHOORN NUUS - Inwoners kan reeds vanaf Mei verhoogde droogtetariewe betaal as damvlakke aanhou daal.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, kommunikasiebeampte van die Oudtshoorn-munisipaliteit, is die Raubenheimerdam tans op slegs 42% en is die totale watervoorraad 47% as die inhoud van die Melvilledam bygereken word.
"Inwoners moet uiters omsigtig wees met waterverbruik vanaf April aangesien die verhoogde droogtetariewe van toepassing sal wees op berekeninge wat in Meimaand gedoen word," het hy Woensdag gesê.
Dit beteken dat rekeninge vir April wat teen 10 Mei betaalbaar is nog op die gewone tariewe bereken word.
Rekeninge vir Meimaand se gebruik wat op 10 Junie betaalbaar is, sal egter op die verhoogde droogtetariewe bereken word as die damvlak nie binnekort styg nie.
Wat die suiwerheid van drinkwater aanbetref het Mangqwengqwe gesê: "Alhoewel die waterkwaliteit aansienlik verbeter het, word inwoners steeds aangeraai om die water te kook voor gebruik."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'