As deel van die Droom vir Oudtshoorn-projek het 'n groot groep inwoners vroeër vanjaar die terrein rondom die hangbrug begin opruim. Sedertdien het 'n pragtuin onder en langs die brug ontwikkel, maar die groep wat hand aan die graaf slaan en kruiwa stoot blyk aansienlik kleiner te wees as aanvanklik.
Volgens een van die vrywilligers wat Saterdag daar gewerk het maak dit nie vir hulle saak uit watter gedeelte van die dorp die dromers kom nie. "Ons wil Oudtshoorn mooi maak vir besoekers en vir ons eie trots, maar ons sou graag wou sien dat meer mense uit die omgewing waar mooigemaak word ook by ons aansluit."
Volgens Charles Basson beplan die groep om die sypaadjie voor die weermagbasis aan die bopunt van Parkweg volgende aan te pak. "Ons is nog net besig met onderhandelinge met die munisipaliteit voor ons daar begin," het hy Dinsdag na 'n vergadering gesê.
Nog 'n projek in die pyplyn is die aanbring van 'n tuin van stilte en vrede in die omgewing van die buurt naby Pennypinchers ter nagedagtenis aan Vigsslagoffers.
Een deel van Saterdag se span wat by die hangbrug gewerk het is van links: Jeffrey Piedt, Martha Claassen, Jan Ayford, Mercia Wassingreen, Elmercia Lourens, oom Deon, Marco Goliath, Thandiswa Soloms en Johhny Saaiman. Foto's: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'