PRINS ALBERT NUUS - Slegs deur 'n dorpie soos Prins Albert as voorbeeld te neem is dit duidelik dat entrepreneurs en kleinhandelaars landwyd reuse-finansiële skade gaan ly tydens die algehele inperking wat van vandag a.g.v. Covid-19 begin.
Dit blyk uit navrae van Oudtshoorn Courant aan verskaffers van dienste, die eienaars van ondernemings in die gasvryheidsbedryf en van onafhanklike winkels wat noodgedwonge Donderdagnag om 23:59 vir drie weke moet sluit.
Net in Prins Albert met sy meer as sestig dorps- en plaasgastehuise gaan die opskorting van toerisme, saam met die knellende droogte wat die landboubedrywighede hier steeds aan bande lê, 'n verlammende uitwerking op die ekonomie van dié dorpie hê.
Soos in ander dorpe in die Klein-Karoo het sakelui se inkomstestroom reeds die afgelope week begin krimp, en in die weke wat voorlê gaan dit tot nul verminder. Een van die kwellende kwessies is dat werkverskaffers hulle werknemers moet bly betaal.
"Ons kan nie Donderdag die werkers met niks in hul sakke huis toe stuur nie. Hulle sal hul salaris einde vandeesmaand ontvang. Ek betaal hulle dus vir eers tot einde Maart, dan later weer," sê die eienaar van 'n restaurant-en-snuisterywinkel.
Die eienaar van 'n bou-en-nutsonderneming met sowat ses vaste en tydelike werkers, Kosie Stols, sê hy kan hulle nie aan hul lot oorlaat nie. "Dis mense wat al jare vir my werk. Hulle is my verantwoordelikheid, net soos my drie kinders by die huis."
Die bestuurder van die teater, The Showroom, Marelize Vorster, sê ook die vermaakbedryf ly skade. "Ons moes vyf vertonings kanselleer."
Gastehuiseienaars het by navraag gesê terugbetaling (of nie) hang af van reëlings wat met gaste getref word – óf die gaste wat noodgedwonge moes kanselleer se deposito's word ten volle terugbetaal, of die gaste vra dat die deposito's gehou word vir 'n besoek later.
Dit is ook die situasie met gastehuise in en om Oudtshoorn. Een gastehuiseienaar het kansellasies van R130 000 gehad en moes R34 000 se deposito's terugbetaal.
Fourie Munro, bestuurder van Spar Prins Albert, sê sake gaan soos gewoonlik voort, met dieselfde getal personeellede. "Voorraad sal deurgaans afgelewer word, ook van varsprodukte. Spar TOPS sluit egter Donderdagmiddag om sesuur. Ons moet nog instruksies kry oor die drankvoorraad in die kruidenierswinkel self."
Intussen het tien Belgiese studente wat in Januarie op Prins Albert aangekom het om by die dorp se skole te help, teruggegaan huis toe. Hulle sou tot einde April daar skoolhou.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'