OUDTSHOORN NUUS - Midde landwye optogte oor geweld teen vroue en kinders en sinnelose moorde was daar drie moorde in en om Oudtshoorn die afgelope naweek.
In twee van die voorvalle kon die polisie daarin slaag om die verdagtes vas te trek.
In die eerste voorval het 'n 32-jarige vrou van Dysselsdorp, Salomé Samson, Dinsdag in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn na sy die afgelope naweek glo haar ma met 'n mes doodgesteek het.
Volgens Samson se broer, André Samson, was daar Sondag glo 'n stryery tussen sy suster en sy ma, Johanna Samson.
"Ek weet nie waaroor die bakleiery gegaan het nie. Mense het my by my skoonfamilie kom haal na die bakleiery plaasgevind het. Ek verstaan dat my ma in haar ribbes en bo-op haar kop gesteek is. Sy het nog geleef toe ek daar aankom. Sy het 'n rukkie later gesterf."
Volgens hom verstaan niemand hoekom sy suster so iets sou doen nie.
"My ma was 'n sagte persoon en het nooit baklei nie. My suster sou ook nie sommer net met iemand baklei nie. Nie een van hulle was gewelddadige mense nie."
Samson sê dit is 'n sensitiewe saak vir die hele familie.
"My ma het twee tweelinge gehad, ek en my sussie wat op die ouderdom van vyf jaar oorlede is en dan Salomé en Abigail. Abigail vat die nuus veral swaar."
Volgens kapt. Joey Strydom, waarnemende stasiebevelvoerder van die Dysselsdorp-polisie, is die saak Dinsdag vir verdere ondersoek uitgestel.
"Die verdagte vrou is drie keer deur die oorledene met 'n mes gesteek. Sy het behandeling in die hospitaal ontvang. Die verdagte is Dinsdag vrygelaat vir verdere ondersoek," het sy gesê.
In 'n tweede voorval is 'n 50-jarige man ook Sondag in Oudtshoorn, Smartie Town doodgesteek.
Die man, Jan Botha, het in 'n veld naby die rooivleis-abattoir gesterf.
'n Man wat naby die toneel woon het gesê hy het Sondag buite sy huis gesit en gesien hoe een man 'n ander jaag.
"Die man is eers in die bosse na die kanaal se kant toe gesteek en toe hardloop hy verder. Hy het net agter my huis in die veld geval waar hy toe dood is. Die man is van agter af gesteek."
Volgens die man wat verkies om anoniem te bly, weet hy glad nie waaroor die bakleiery gegaan het nie.
"Die mense sê dit gaan glo oor 'n vrou, maar ek is nie seker nie."
Volgens sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is 'n 34-jarige man in verband met die moord in hegtenis geneem.
In Zoar naby Ladismith is die liggaam van 'n 57-jarige man, wat as Jakob Adam geïdentifiseer is ontdek.
Volgens ao. Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith-polisie, is Adam glo met 'n skerp voorwerp gesteek.
"Hy is naby die tavern in Sandkraal gevind. Die voorval het Saterdagaand 22:45 plaasgevind.
Die polisie vra dat enigiemand wat inligting oor die moord het sers. Damion Manuel by 028 551 8100 skakel."
Volgens hom is daar nog niemand in verband met die moord in hegtenis geneem nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'