OUDTSHOORN NUUS - Daar was Maandag drama in die Oudtshoorn-streekhof toe die regsverteenwoordiger van 'n werknemer wat van diefstal van derduisende rande aangekla word, beswaar aangeteken het teen beweerde growwe onreëlmatighede in die regsproses.
Emmerentia Weyngardt se regsverteenwoordiger, Werner van Rensburg, het voordat die verhoor met die getuienis van die eienaar van die Montana gastehuis op Schoemanshoek, Wolfgang Beitz, begin het, beswaar gemaak dat sy kliënt nie 'n regverdige verhoor kry nie.
Volgens van Rensburg het Landdros Lamprecht geweier dat die verdedigings subpoena uitgereik mag word. Van Rensburg het ook aangedui dat die staat se gebrek aan blootlegging van verdere beoogde getuies en 'n noodwendige uitstel wat die staat sal aanvra, sal neerkom op "konstruktiewe" ontneming van sy klient se reg op regsverteenwoordiging van haar keuse, wat 'n skending van die regsproses is.
Van Rensburg beweer ook dat die ondersoekbeampte, ao. Darome Burger, na haar getuienis, onreëlmatiglik met sleutel ge-tuies in die hof se gange gekonsulteer het.
Van Rensburg het selfoonfoto's aan die hof voorgelê ter stawing van sy aantuiging.
Hy beweer ook dat Burger teenwoordig was tydens 'n konsultasie wat die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, met Beitz gevoer het.
Hy het die hof meegedeel dat hy die hoogge-regshof wil nader met 'n aansoek om spesiale hersiening van die saak.
Streekhoflanddros Wilkens het aan Weyers uitgewys dat sy 'n platform van 'n regverdige verhoor moet skep.
Weyers het heftig beswaar gemaak teen Van Rensburg se aantygings en dat sy eksepsie neem.
"Die ondersoekbeampte was nie by konsultasies betrokke nie."
Oor die vertraging van die saak het Weyers gesê dat dit nie die staat se toedoen is nie.
"Die beskuldigde se huidige regsverteenwoordiger is haar derde tot dusver," het Weyers gesê.
Die saak is op versoek van die verdediging vir hersiening na die hooggeregshof verwys en deur streeklanddros LA Wilkens tot 14 November uitgestel vir 'n antwoord op die aansoek..
Weyngardt word daarvan aangekla dat sy tussen 2013 en 2015 altesaam R557 707.15 van die Montana gastehuis gesteel het. Sy ontken skuld.
Die ondersoekbeampte, ao. Darome Burger, het getuig dat die beskuldigde by verskeie geleenthede dieselfde bedrae wat elektronies aan verskaffers betaal is, ook na haar eie bankrekeninge oorgeplaas het.
Weyngardt het ook by ander geleenthede, volgens Burger, aangedui dat geld na bankreke-nings van verskaffers oorgeplaas is maar volgens haar persoonlike bankstate in haar eie bankrekeninge betaal is.
Volgens Van Rensburg is talle groot bedrae geld ook in die rekeninge van die sjef van Montana, Alfred Maseku, en nog 'n persoon, Bradley Titus, se rekeninge betaal.
By een geleentheid in 2014 is 'n bedrag van R40 000 glo foutiewelik in Maseku se rekening betaal wat hy later terugbetaal het.
Maseku is volgens Van Rensburg nie net die sjef van die gastehuis nie maar hanteer ook die kredietkaart van die besigheid.
"Hy het insae gehad in die besigheid se finansies."
Die klaer het volgens die verdediging ook nie die ondersoekbeampte meegedeel van 'n bedrag van R200 000 wat onlangs uit sy bankrekening verdwyn het lank nadat die beskuldigde sy diens verlaat het nie.
Die saak was vir drie dae se verhoor, van 11 tot 13 September, op die hofrol.
Lees 'n vorige artikel: Drama in hof
ARTIKEL: GARNETT WICOMB, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'