In die eerste ongeluk Sondagmiddag het 'n vragmotor in een van die eerste draaie in die Huisrivierpas op die R62 sowat 10 km anderkant Calitzdorp omgeslaan. Die vragmotor het op die teeroppervlak op die sykant te lande gekom, deur die veiligheidsreling gebars en in die veld op sy dak te lande gekom.
Een van die vyf insittendes is in die wrak vasgekeer en moes deur nooddienswerkers bevry word. Die AMS-noodhelikopter is ontbied om die ernstig-beseerde vrou hospitaal toe te neem. Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse department van gesondheid, was vyf persone in die ongeluk betrokke, twee vroue en drie mans. Sy sê een vroulike pasiënt, wat verskeie frakture opgedoen het, is Maandag oorgeplaas na die George-hospitaal, waar sy teen Dinsdag stabiel was.
Nog 'n vrou is in die hospitaal opgeneem en Dinsdag ontslaan terwyl die ander drie beseerdes Sondagaand in die noodeenheid van die Oudtshoorn-hospitaal behandel is. Hulle is nie opgeneem nie. Die R62 was vir meer as 'n uur tussen 16:15 en 17:30 vir verkeer gesluit en volgens 'n verkeersbeampte het meer as 200 motors weerskante van die ongelukstoneel opgedam en gewag dat die pad weer oopgemaak word.
Enkele minute nadat die helikopter vertrek het en die pad oopgestel is, moes nooddienswerkers terug jaag Oudtshoorn toe nadat hulle in kennis gestel is dat 'n motor naby De Rust gerol het.
In 'n bykans identiese ongeluk het 'n vragmotor met 'n swaar vrag graan Maandagmiddag net bokant die berugte perdeskoendraai op die George-pad omgeslaan.
Die ongeluk het ook ongeveer 16:00 plaasgevind. Die vragmotor was vanuit die rigting van George op pad toe dit in die draai omgeslaan het.
Soos met die ongeluk van Sondag het tonne en tonne graan in die veld beland en die vragmotor is ernstig beskadig.
Ambulanspersoneel wat met 'n ma en kind op pad was na George het op die ongeluk afgekom en noodbehandeling op die bestuurder, wat alleen in die vragmotor was, toegepas. Hy het hoofbeserings opgedoen en is later na 'n ander ambulans oorgeplaas en na die Oudtshoorn-hospitaal geneem.
'n Ernstig-beseerde pasiënt word voorberei om per helikopter na Oudtshoorn vervoer te word.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'