OUDTSHOORN NUUS - Hoërskool Protea se eens vergete, dorre rugbyveld is stadig maar seker besig om 'n splinternuwe grasgroenbaadjie aan te trek. Wilmero Freeks, opvoeder by dié skool, het die inspirasie agter die grasplantprojek by dié skool aan die Oudtshoorn Courant vertel:
"Verlede jaar het die Oudtshoorn-munisipaliteit 'n rioolaanlegpomp by ons skool herstel en dit is toe dat die idee by my posgevat het om gras op ons dorre rugbyveld te plant. Ek kan met sekerheid sê dat Hoërskool Protea vir die afgelope 20 jaar, indien nie langer, geen grasveld op hul rugbyveld gehad het nie.
"Wonder bo wonder het hierdie situasie nie die skool se sport tot stilstand geruk nie omdat die leerders steeds op hierdie graslose oppervlaktes geoefen het."
Volgens Freeks het hy en 'n groepie gr. 11-leerders einde verlede jaar vir die eerste keer drie pakkies grassaad op 'n 5 x 3 m oppervlak geplant om te toets of dié projek sou werk. Die oppervlak is toe elke dag natgemaak wat regdeur gedurende die Desember-vakansie deur die leerders volgehou is.
''Met die aanvang van die nuwe skooljaar was die klein oppervlak met grasgroen gras bedek en dit is toe dat ek besluit het om borge te kry om die saad vir hierdie opwindende grasplant-projek te finansier. Pick n Pay se hoofkantoor in Kaapstad was van die eerste borge wat ingestem het om ons met 'n groot besending grassaad te help."
Van links is Fabian May, Reagan Botha, Geano Julius, Wilmero Freeks (opvoeder by Hoërskoo Protea), Francois Abrahams en Ishynn de Villiers. Foto's: Wyndham Ewerts
Die grasperk op die rugbyveld het intussen van 5 x 3 m tot 20 x 20 m gegroei. Freeks sê dat die leerders wat hom help se entoesiasme hom daagliks dryf om die rugbyveld in totaliteit met gras te bedek sodat die volgende generasie leerders daaruit voordeel kan trek.
"Oor 'n paar jaar van nou af kan dié leerders, wat so getrou gehelp het, met trots terugkyk met die wete dat hul sweet hierdie projek 'n werklikheid gemaak het. Ek voorsien dat die hele rugbyveld teen Desember 2021 met grasgroen gras oortrek sal wees.
"Ons is ook dankbaar vir die Oudtshoorn-munisipaliteit wat grys water aan ons skool teen 'n minimale bedrag verskaf. Hopelik kan Hoërskool Protea nog nasionale sportsterre soos Tyrese Karelse (o.19 -Proteakrieketspeler) in die toekoms oplewer."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'