OUDTSHOORN NUUS - Die feit dat die regering sy begroting ten opsigte van munisipaliteite met R17 miljard gesny het, is maar een van die uitdagings waarmee Oudtshoorn en ander dorpe tans te kampe het.
Ander uitdagings wat spesifiek op Oudtshoorn van toepassing is, is die 27 onwettige persele waar informele huise opgeslaan word, die rye mense wat van voor daglig tot laat namiddag moet toustaan om uitbetalings by die poskantoor te kry en klagtes oor veiligheid in die middedorp.
Hierdie was kwessies wat Chris Macpherson, uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, Maandag met verteenwoordigers van die media gedeel het.
"Die uitdagings is groot, maar ons wil die versekering gee dat ons tans slegs op drie dinge fokus en dit is dienslewering, dienslewering en dienslewering," het Macpherson gesê.
Hy het bygevoeg dat werksessies met die bestuur van elke departement gehou is om te benadruk dat elke amptenaar op diens is. "Die feit dat jy dalk nie kan kantoor toe kom as gevolg van Covid-19 nie, beteken glad nie dat jy nie op diens is nie," het hy gesê.
Wat die situasie by die poskantoor betref het Macpherson gesê dit is 'n probleem wat nie oornag opgelos kan word nie. "Ons probeer baie hard om die betrokke minister sover te kry om alternatiewe uitbetalingspunte te skep, maar tot dusver is daar nog nie 'n oplossing nie,"
Hopeville is ook 'n tameletjie, want volgens Macpherson is daar tans nog 26 ander persele waar mense onwettige strukture opslaan. "Dit is 'n geweldige uitdaging, want by Hopeville, waar aanvanklik enkele hutte tydelik opgeslaan sou word, staan daar nou omtrent 100 en ons kan dit nie net eenvoudig gaan afbreek nie."
Wat die veiligheid van die middedorp aanbetref het Macpherson onderneem om na die moontlikheid te kyk dat wetstoepassers op 'n daaglikse basis die middedorp patrolleer en toesien dat motoriste wat onwettig parkeer beboet word. Hulle moet ook verseker dat lede van die publiek nie die teiken van misdaad en bedelaars is nie.
Macpherson het ook 'n beroep op inwoners gedoen om eienaarskap van hulle eie onmiddellike omgewing te neem.
"Dit gebeur daagliks dat die munisipaliteit 'n area skoonmaak, net om te sien dat die plek die volgende dag weer met rommel besaai is."
Jaco Vorster, voorsitter van die Oudtshoorn-besigheidskamer, het gesê: "Die sakekern van enige dorp vertel die storie van die ontwikkeling van die dorp. Ongelukkig is dit so dat baie dorpe se sakekerns verval omdat nuwe ontwikkeling buite die dorp plaasvind. Alhoewel ontwikkeling verwelkom word, moet daar nie vergeet word dat die sakekern steeds die middelpunt van die dorp is en dat talle besighede steeds daar moet funksioneer omdat almal dit nie kan bekostig om na 'n nuwe sentrum te verskuif nie. Daarom is dit belangrik dat die munisipaliteit moet verseker dat die middedorp 'n aangename en veilige omgewing is. Dit is 'n baie groot deel van ons dorp se ekonomie."
Chris Macpherson, Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, tydens Maandag se mediasessie.
Een van die talle motorwagte in Hoogstraat.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'