Hy was die eienaar van die Headlines Restaurant wat in 1990 sy deure oopgemaak het en ook een van die Oudtshoorn-rugbyklub se mees suksesvolle afrigters.
Geldenhuys, wat by nog 'n bekende, Jan Lotz, as afrigter van die klub oorgeneem het, het 'n groot bydrae gelewer tot die klub se rekord van 44 premierliga titels, meer as enige ander klub in die SWD. Geldenhuys het ook dikwels vertel dat Lotz hom veral geleer het van rugbyadmi-nistrasie.
As afrigter het Geldenhuys Oudtshoorn-rugbyklub tot talle hoogtepunte gelei, waaronder 'n oorwinning oor Maties, in die destydse klubkampioenskappe.
Geldenhuys se kinders het die afgelope week vertel van 'n man wat nie daarin belang gestel het om rykdom te vergader nie maar gelewe het vir sy gesin, sy kinders en sy kleinkinders.
Geldenhuys word deur sy gesin onthou as 'n man wat talle opofferings ter wille van sy medemens gemaak het en ook voluit gelewe het. 'n Passie vir die lewe en vir sy medemens was eienskappe wat hom gekenmerk het. Geldenhuys het ook op die rolbalbaan sy merk gemaak.
"Léwe jou geloof" en "Jy het nét jou naam," was van die lewenslesse wat sy kinders van hom geleer het. "No guts, no glory," was ook dikwels die woorde van 'n man wat sy kinders geleer het om nooit moed op te gee nie, om aan te hou baklei.
"Hy het mense vertrou en sy hart was oop vir almal, dikwels ten koste van homself," het sy kinders vertel. Die gesin was ook die week verras oor die wye invloed wat hul pa op mense se lewens gehad het. "Ons het die week soveel boodskappe ontvang van mense wat ons nog nooit ontmoet het nie. Soveel mense het staaltjies oor ons pa te vertel. Mens besef nie altyd hoe wyd jou pa se invloed op ander mense se lewens is nie."
Verskeie bekendes het die week ook hul medelye betuig.
Saag Jonker het Geldenhuys beskryf as "'n groot rugbyman, in hart en siel wat baie goeie werk vir sy klub en die sport in die SWD verrig het. Ons is almal diep geskok. Sy verlies laat 'n groot leemte."
Die bekende rugby afrigter, Phil Pretorius, wat saam met Geldenhuys by die SWD Arende betrokke was, het hom beskryf as "`n kundige en eerbare mens. Ek onthou hom as `n baie lojale mens wat `n sterk ondersteuningsrol gespeel het. Ek het ook `n paar keer by sy restaurant gaan kuier waar ons lekker gesels het."
`n Oudpresident van SWD Rugby, Stag Cronje, het gesê dat hy tussen 2005 en 2006 die voorreg gehad het om saam met Geldenhuys op SWD se bestuur te dien. "Nico was ook op die ontwikkelingskomitee met die spesifieke opdrag om afrigters op te lei. Hy het baie opgeoffer vir Oudtshoorn rugbyklub en `n groot rol gespeel in die geskiedenis van die klub."
Ook die bekende Vlok Cilliers, tans skopafrigter by die Westelike Provinsie, wat in sy loopbaan deur Geldenhuys afgerig is het die week gesê dat hy hartseer is oor die nuus.
Geldenhuys laat sy vrou, Hannetjie, drie kinders, Marthinus, Sanet en Ilze en vier kleinkinders agter.
'n Roudiens vir Geldenhuys is vanmiddag om 13:00 vanuit die NG Park Gemeente waarna n privaat verassingsdiens volg.
Klik hier vir 'n verwante nuusflits.

Wyle Nico Geldenhuys met sy vrou en kleinkinders.

Nico Geldenhuys en lede van sy familie

'n Glimlag vir die kamera
ARTIKEL: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'