OUDTSHOORN NUUS - Die afsterwe van een van Oudtshoorn se jongmense die naweek weens nagevolge van breinvliesontsteking, het die dorp geruk.
Duisende mense het vir Cinmarie Zeelie (25), of Cimi soos sy ook bekendgestaan het, en haar familie vir 'n wonderwerk gebid na sy die afgelope naweek breindood verklaar is, maar 'God het anders besluit.'
So het haar bedroefde suster, Louiza Zeelie, aan Oudtshoorn Courant vertel. Cinmarie was die tweede jongste van vier kinders.
Volgens haar is Cinmarie in Maart met breinvliesontsteking gediagnoseer.
"Sy is in die hospitaal opgeneem van die 9de tot die 14de Maart. Sy was siek, maar nie so ernstig nie. Sy het net van kopseer gekla, maar ons het nie veel daarvan gedink of gedink dat dit enigsins ernstig kan wees nie."
Volgens haar het Cinmarie die afgelope naweek gesê dat haar kop regtig seer is en dat sy net 'n rukkie gaan lê.
"Sy het naar geword en epileptiese aanvalle gekry en ons het die ambulans geskakel. Die mediese personeel het vir ons gesê sy is in 'n koma en sy is daardie aand na die George-hospitaal oorgeplaas."
Zeelie sê dat die dokters heeltemal die mat onder haar en haar familie se voete uitgeruk het toe hulle aan die familie verduidelik het dat Cinmarie basies geen breinaktiwiteit toon nie en dat sy net 'n 1% kans op lewe het.
"Dit kon nie waar wees nie. My sussie was dan nog eintlik okay. Maar die dokters het verduidelik dat daar nog bakterie in die brein agtergebly het wat haar kopsere veroorsaak het. Die dokters sou Dinsdagoggend die masjiene afgesit het, maar wou net nog een keer probeer om te kyk of hulle haar kon red. Cimi is egter oorlede nog voor die masjiene afgesit is."
Zeelie sê sy gaan haar suster as 'n liefdevolle, vrygewige mens onthou.
"Sy het so min gehad, maar sy sou haar laaste met ander mense deel. Sy was 'n borrelende mens en het enige vertrek waarin sy gestap het opgehelder. Haar hele wêreld was haar twee seuntjies. Sy het hulle met alles in haar liefgehad. Sy was 'n mense-mens en was op haar gelukkigste tussen vriende en familie.
Sy laat haar susters, Louiza en Patricia, en broer PJ, haar ouers Maria en Patrick en twee seuntjies Hakeem (3) en Yaseen (2).
Die begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie beskikbaar nie.Cinmarie was op haar gelukkigste tussen vriende en familie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’