OUDTSHOORN NUUS - Dr. Hentie Louw het 50 jaar gelede, op 1 Januarie 1973, op Oudtshoorn as jong dokter, saam met drs. Piet du Toit en Willem Roller begin werk.
"Oudtshoorn se gemeenskap het ons jong gesin met ope arms ontvang. Enige jong dokter kan maar wens om soveel by die ervare dokters van Oudtshoorn te kon leer, veral in die jare toe mediese spesialiste baie skaars was."
Louw sê die hitte en muskiete was vir hulle aan die begin bietjie erg, maar hulle het gou daaraan gewoond geraak.
"Daardie jare het dokters nog pakke klere en dasse gedra en moes ons maar later in die dag die baadjie uittrek en moue oprol. Van lugreëling was daar nie sprake nie, darem hier en daar ‘n waaier. Ons het gou deel geword van die gemeenskap en wil graag een en almal bedank wat ons ondersteun het in ons goeie en ons hartseer tye. Hier kon ons groei tot waar ons vandag is."
Louw sê hy wil graag ook aan Oudtshoorn met sy unieke inwoners wat hul verblyf so aangenaam gemaak het, die pasiënte, kollegas, vriende en alle Oudtshoorniete wat hul paaie gekruis het, sê baie dankie.
"Ons gaan julle mis. Ons seun boer in Groot-Brakrivier en ons het besluit om nader aan hom te kom aftree. Ons wens die dorp en sy inwoners net die beste toe vir die toekoms. Ons is saam met julle dankbaar vir die goeie reëns wat ons damme volgemaak het. In ons harte sal ons altyd Oudtshoorniete bly."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’