Video
TUINROETE | KAROO NUUS EN VIDEO - Jaco Snyman, 'n prokureur van George, het tydens die kunstefees sy liefde vir sigare met feesgangers gedeel.
Sy passie vir sigare het ontstaan toe hy as jong man agtergekom het dat die reuk van 'n sigaar en 'n sigaret verskil.
"'n Sigaar is by uitsondering net met spesiale geleentheid gerook en was baie duur," vertel Snyman.
Omdat sigare so duur was het Snyman tabakblare van 'n boer gekry en 15 jaar gelede sy eerste sigaar gerol. Almal was dit eens dat jy nie 'n sigaar van Suid-Afrikaanse tabakblare kan rol nie. Vandag oes Snyman net Suid-Afrikaanse tabakblare om sy sigare te rol en is sy produk eg Suid-Afrikaans.
"Wanneer jy 'n handgerolde sigaar rook, is die smaak aanvanklik sterk, en raak dit al soeter en ligter hoe nader jy aan die einde kom," sê Snyman.
"Mense se miskonsepsie is dat 'n sigaar en sigaret dieselfde eindproduk is, maar dis glad nie so nie. 'n Sigaar se blare word van die hoofaar gestroop en 'n sigaret se blaar word in totaliteit fyngemaal, dis hoekom 'n sigaret regdeur dieselfde proe," sê Snyman
Snyman se vrou, Annerie, het die potensiaal gesien om dié stokperdjie van Snyman in 'n besigheid te omskep en so is Santa Bras Sigare gestig.
Snyman bied ook sigaar-proe-klasse aan, dit behels dat jy 'n sigaar stadig rook terwyl verskillende soort wyne bedien word om die smaak van die sigaar se stadiums te komplimenteer.
''Sigare is vir die smaak en sigarette vir die nikotien effek," sê Snyman.
VIDEO -Jaco Snyman wys hoe rol mens 'n sigaar (Video: Elaine van der Toor)
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'