CALITZDORP NUUS - Terwyl die Gamkapoortdam nog dolleeg is, is daar hoop vir boere wat water uit die Calitzdorp-dam kry.
Dié dam se vlak het met die afgelope weke se reën tot bykans 40% gestyg.
Boets Nel van De Krans-wynkelder sê die water in die dam gee uitkoms vir 'n gedeelte van hulle wingerde, maar vir die grootste gedeelte van die boorde wat deur die Gamkapoortdam gevoed word is dit steeds kritiek.
Ons is baie dankbaar vir die reën en veral vir die feit dat ons die blokke waar mense elke jaar kom hanepoot pluk mooi kon versorg. In dié gedeelte van die wingerd lyk die oes baie mooier as verlede jaar en besoekers kan daarna uitsien om weer trosse met volronde korrels te pluk.
Calitzdorp met sy verskeidenheid kelders, restaurante en besienswaardighede is die ideale plek vir 'n daguitstappie. De Krans stel jaarliks 'n gedeelte van hulle wingerde wat naby die kelder en die bistro geleë is, oop vir die publiek om self te stap en druiwe te pluk. Die tydperk word gekoppel aan die tyd en grootte van die oes, en vanjaar lyk dit asof daar genoeg druiwe sal wees vir die volle pluktyd wat reeds op 22 Januarie begin het en op 22 Februarie eindig.
Besoekers kan in dié tydperk elke dag tussen 08:00 en 16:00 teen R9,50/kg gaan druiwe pluk en ontspan.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'