OUDTSHOORN NUUS - Om Kilimandjaro in Tanzanië uit te klim, wat byna ses kilometer bo seevlak uittroon, sit nie in Jan Alleman se broek nie, maar om dit te doen op die ouderdom van meer as 50 klink soos 'n byna onmoontlike taak.
Dit is presies wat die Witbooi-broers, Johnny (55) en Patrick (57) - gebore Dysselsdorpers - aan die begin van Julie vermag het toe hulle saam met 'n groep insluitend Patrick se seun Dean (33) hierdie magiese en majestueuse berg aangepak het ter herinnering aan Patrick se oorlede vrou, Delicia.
Delicia is in 2022 oorlede. Sy was die hoof van Laerskool Panorama in Riversdal.
Johnny is tans 'n gr. 12-onderwyser by Bridgton Senior Sekondêr in Oudtshoorn. Patrick is op sy beurt die hoof by Gerrit Du Plessis Senior Sekondêr in Riversdal. Oudtshoorn Courant het Dinsdag by Johnny gaan aanklop om meer oor die broers se magtige tog uit te vind.
Hy praat deurgaans met oorgawe, opwinding en 'n bietjie heimwee oor hul ervaring.
Hy vertel dat die idee om die tog aan te pak reeds in September verlede jaar van Patrick af gekom het, wat graag die klim van die berg - die hoogste in Afrika - aan sy oorlede vrou wou opdra.
"Ek het vir Patrick gesê daar is nie 'n manier dat ek jou alleen teen daai berg sal laat opstap nie!"
Hul reis het uiteindelik op 1 Julie tydens die skoolvakansie begin en op 8 Julie tot 'n einde gekom.
"Ons het die 1ste begin klim en teen die 7de het ons die piek bereik. Dit was ongelooflik! Vir die eerste vyf of ses dae klim mens elke dag basies die hoogte van Tafelberg in Kaapstad twee keer. Dit beteken ons het die hoogte van Tafelberg omtrent 10 tot 11 keer geklim. Die dag toe ons begin klim was presies 'n jaar nadat Delicia, Patrick se vrou, oorlede is," vertel Johnny.
Johnny beskryf Delicia as 'n baie dinamiese vrou. Sy broer hanteer haar afsterwe nog baie swaar, sê hy, en hierdie tog na Kilimanjaro was baie emosioneel.
"Sy deursettingsvermoë het hom deurgedra en sy was die heeltyd in sy gedagtes." Johnny, Patrick en Dean het op die punt voor die piek, bekend as Stella Point, juis 'n foto geneem waar beide Patrick en Dean hemde met Delicia se gesig op gedra het.
Die voorbereiding wat hulle ondergaan het om die reis aan te pak na die piek was amper erger as die klim van die berg self, skerts Johnny. Hy sê dat hy minstens 100 km per week probeer stap het wat beteken het dat hy omtrent 480 km per maand afgelê het - alles net om fiks te word vir die staptog. Sy voorbereiding het eers in Februarie vanjaar begin, maar Patrick se voorbereiding reeds verlede jaar.
"Ek moes seker maak dat ek fiks was vir die klim. Ons het elkeen duisende kilometers se stap as voorbereiding gedoen," sê hy.
Johnny vertel hulle moes deurgaans ook in gedagte hou dat hulle nie voorbereid sou wees vir hoe die hoogte van die berg hul liggame sou affekteer nie. "Soos mens hoër gaan raak dit moeiliker om asem te haal."
Hul ouderdom het hul nie afgeskrik nie, sê hy. "Maar ons moes dit stap vir stap aanpak - dit is al hoe mens dit kan regkry."
Om die piek, bekend as Uhuru, uiteindelik te bereik was die moeilikste, sê Johnny. Sy broer Patrick het reeds 00:00 die nag begin klim in een groep waarna Johnny 01:00 die oggend saam met die volgende groep begin "summit" het, soos hulle daarna verwys.
Johnny beskryf die tonele wat hulle kon sien tydens die klim as skouspelagtig en onbeskryflik. Al het die klim elke dag baie lank gevat, om net 'n kort afstand af te lê, was dit "fun, fun, fun" sê hy. "Omdat dit opdraande is, vat kort afstande baie langer as wat mens sou dink."
Mens is ook nie alleen, of honger of verslae tydens jou klim nie, vertel hy opgewonde. "Daai berg is vol mense, hoor! En in die aande stap mense met kopflitse en as jy opkyk is dit 'n iets besonders om te aanskou. Met elke plek waar ons gekamp het is ons soos 'royalty' behandel deur die maatskappy waardeur ons gewerk het. Hulle het mense wat jou tent vir jou opslaan en aandra van een kampplek na die volgende, en hulle het die lekkerste kos gemaak - amper soos vyfster etes! Dit was ongelooflik!"
Johnny Witbooi pronk op die piek van Kilimanjaro met sy Suid-Afrikaanse en Blou Bul-vlae. Foto verskaf
Volgens Johnny het Ascend Tanzania, die toermaatskappy, vir hulle die beste behandeling gegee. Hulle het nooit gesukkel om kos of water of 'n lekkerny te kry nie.
"Ons het sommer burgers en chips, hoender, lekker warm sop van alle soorte gekry. Dit was net fantasties. Selfs die manne wat ons toerusting aangedra het was wonderlik. Terwyl ons teen die berg opstap, hardloop hulle sommer verby ons - dit was verbasend! Ons het net klein 'day packs' saam met ons gedra, meestal met water en ekstra warm klere in."
Sneeu was daar min, omdat dit tans somer is rondom die berg, maar weens die gletsers op die bergpieke was dit steeds koud. Volgens Johnny het mens daagliks, onder jou sneeubroek en -baadjie, vier tot vyf ander lae klere aangetrek. "Dit was 'n hele ander belewenis!"
Een van sy gunsteling herinneringe van die magiese staptog - wat hy beskryf as 'n eens in 'n leeftydervaring - buiten die 10 minute wat hulle op die piek mag spandeer het, was toe hy en sy broer en broerskind saam 'n foto geneem het ter herinnering van Delicia. Dit was op Stella Point geneem.
"Ek het baie emosioneel geraak - dit was net voor ons die hoogste piek bereik het. Ek sal nooit daai gevoel of prentjie vergeet nie," vertel hy met heimwee.
Om op die piek self te staan was 'n belewenis op sy eie. "Dit was oorweldigend. Jy borrel met emosies en die trane loop net. Mens dink ook aan die mense wat dit nie maak nie. Party mense bereik nie die piek nie, en ons het gehoor daar is mense wat selfs sterf. Hierdie is 'n journey vir mense, party is desperaat om daarbo uit te kom. Maar ons het dit gemaak!"
Johnny Witbooi, onderwyser by Bridgton Senior Sekondêr in Oudtshoorn, het op die ouderdom van 55 die ongelooflike taak om Kilimanjaro in Tanzania te klim, vermag. Foto: Stefan Goosen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’