Update
OUDTSHOORN NUUS - Na twee jaar se harde skryfwerk en nog twee jaar se gespartel met 'n uitgewer het Nicky Schoeman sy bundel met geestelike gedigte Donderdagaand bekendgestel. Schoeman het die bundel Daaglikse Lig by Beans About Coffee aan 'n groepie genooide gaste bekendgestel. Volgens hom wou hy iets skryf wat vir mense as inspirasie dien.
"Ek wil graag die boodskap van lig en hoop aan mense oordra en ek hoop dat honderde mense daardeur inspirasie kry," het hy Donderdagaand gesê.
Om die bundel met 50 geestelike gedigte 'n werklikheid te laat word was volgens Schoeman nie 'n maklike taak nie. Sy werk as paramedikus verg lang en ongereëlde ure en hy het ook 'n gesin waaraan hy sy aandag gee, "Dit het beteken dat ek dikwels laatnag as almal reeds slaap, sit en skryf het."
Die bundel bestaan uit 50 gedigte. Elke gedig het 'n tema, gevolg deur 'n toepaslike Bybelvers en 'n gedig wat die vers toelig. Volgens Schoeman het hy begin by gedagtes wat hy graag met mense wil deel om hulle te inspireer.
"Soms het die gedagtes eerste gekom en dan het ek 'n Bybelvers gesoek om die gedagte te illustreer, maar ander kere het die Bybelvers eerste met my gepraat. Daarna het ek die gedig begin skryf en geslyp."
Die bundel is reeds in 2016 aan 'n uitgewer voorgelê, maar nadat Schoeman 'n aardige bedrag inbetaal het, het hy vir bykans twee jaar geen boek ontvang nie.
Dit was eers sowat drie maande gelede toe hy die media genader het, dat die uitgewer geskarrel het en die boeke gelewer het. Maar, oor hierdie proses sê Schoeman, wroeg hy nie meer nie. "Ek dink dit is iets wat ek in my getuienis sal gebruik as ek met groepe gesels, want daaruit het ek ook 'n les geleer."
Dokter Clifford van Wyk, plaaslike psigiater het die bekendstelling verlede week bygewoon. Hy het gesê Schoeman se boodskap vul sy beroep as paramedikus aan.
"Ek sien 'n man wat mense in hulle oomblik van nood nie net met fisiese versorging bystaan nie, maar ook op geestelike vlak kan ondersteun."
Hy het ook verwys na Schoeman se T-hemp waarop hy die bynaam Gum, wat 'n negatiewe konnotasie vir Schoeman gehad het, met 'n positiewe boodskap uitbeeld.
"Ons moet leer om die negatiewe dinge wat oor ons pad kom, om te swaai en dit tot voordeel van ander gebruik."
Vir navrae oor die boek of om met Nicky Schoeman te gesels kan hy by 078 482 6650 bereik word.
Lees 'n vorige artikel: Boek na 2 jaar 'n werklikheid
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'