OUDTSHOORN NUUS - Danksy Radio Klein Karoo, die aanlyn-radiostasie wat in Januarie begin is, kon 'n gesprek oor die pandemie-digbundel, Maskers en mure, Saterdagoggend deur luisteraars oor die wêreld heen gevolg word.
Cyril Clarke, een van die aanbieders by Radio Klein Karoo het Saterdagoggend op sy program, Klets met Clarke, vir bykans 90 minute met Hannes Visser oor dié uitsonderlike bundel en ook oor Visser se eie digkuns gesels.
Tydens die gesprek het verskeie mense in die buiteland geluister en selfs in Spanje het elf Afrikaanssprekendes ingeskakel.
Maskers en mure is deur Turksvy Publikasies, waarvan Visser 'n direkteur is, in samewerking met die KKNK, ATKV, Absa, Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport en die Jannie Mouton-stigting uitgegee.
Tydens die gesprek het Clarke en Visser oor digkuns in die algemeen gesels en Visser het ook oor sy persoonlike lewe en oor sy eie digbundel, die jaar toe pa..., gesels. Hy het gesê hy is trots op dit wat hy en Marlene Malan, mededirekteur van Turksvy Publikasies en eggenote van die digter Daniel Hugo, tot dusver bereik het.
Die radiostasie het tans meer as 30 000 volgelinge op hulle Facebook-blad waarvan talle in die buiteland woon.
Lees meer in Oudtshoorn Courant en aanlyn
Verskeie kopieë van Maskers en mure is reeds in die buiteland. Hier is Irize Loots, 'n Afrikaanse digter in Nederland, met haar kopie. Haar eie bundel, 'Vlieg vorentoe', is vroeër vanjaar deur Turksvy publikasies uitgegee.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'