OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van Oudtshoorn het die week op sosiale media hul kommer uitgespreek na 'n Maine Coon-kat Sondag op Oudtshoorn vergiftig is.
Marée Trüter, eienaar van die kat, sê sy het Sondagaand agtergekom haar kat tree snaaks op en dat daar skuim by Chekoté se bek uitkom.
"Hy het glad nie beheer oor sy blaas gehad nie en het spiertrillings gehad en om middernag het ons hom veearts toe geneem." Trüter sê dr. Karlien Botha kon haar kat se lewe red omdat sy Chekoté betyds kon behandel.
"Wat my bekommer is dat die gif, volgens die veearts, nie rotgif is nie, maar 'n tipe gif wat hulle veral op plase en in stede gebruik. Ons het nog ander troeteldiere wat ook in gevaar kon wees."
Volgens haar het sy 'n plasing op die Oudtshoorniete Staan Saam Facebook-groep gemaak en agtergekom dat talle troeteldiere in haar woonbuurt vergiftig is.
"Dit is vir my erg dat mense dit net so los en nie 'n saak by die polisie aanhangig maak nie. Almal verwag iets moet gedoen word om dit te stop, maar niemand doen iets nie."
Botha het die week aan die Oudtshoorn Courant gesê dit is nie 'n geïsoleerde geval nie en dat vergiftigings sedert November 2019 regoor Oudtshoorn toegeneem het.
"Ek het met baie troeteldiereienaars gepraat en baie van die gevalle kan moontlik met potensiële inbrake verband hou." Volgens haar het sy sedert November drie honde weens die gif verloor.
"Die gif wat gebruik word bevat aldikarb en is 'n stof wat geweldig toksies is en in plaagdoders voorkom. Die klein swart korreltjies gif lyk soos geweerpoeier. Omdat dit baie bitter is sal die dier dit nie net so eet nie en word dit in stukkies vleisies en worsies gesit. Diere kan binne 20 minute na inname sterf."
Volgens haar moet troeteldiereienaars op die uitkyk wees vir vreemde mense in die omgewing. Sy sê "kwaai bure" kan egter ook nie uitgesluit word nie.
"Dit is nie net skelms wat diere vergiftig nie, maar ook mense wat eenvoudig nie van diere hou nie."
Volgens haar is dit ook belangrik om 'n klag by die polisie aanhangig te maak wanneer iemand vermoed hul troeteldier is vergiftig.
Simptome om na te kyk in diere:
- Braking
- Kwyl
- Skuim om die mond
- Moeilike, swaar en vinnige asemhaling
- Urinering
- Diarree
- Klein of vergrote pupille
- Sekrete vanaf die longe en lugweë
- Stadige of versnelde harttempo
- Spiersametrekkings, spierverswakking en verlamming
Sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het gesê dat die polisie 'n klag van opsetlike saakbeskadiging ondersoek na Chekoté vergiftig is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'