OUDTSHOORN NUUS - Diewe wat drie heiningpale en 'n kragkabel van ongeveer een meter by twee kragpunte gesteel het, het vir die paar rand wat hulle vir die gesteelde items sal kry, die belastingbetaler derduisende rande gekos.
Verlede Woensdagnag is 'n veiligheidsheining by 'n subkragstasie in Dassieweg stukkend geknip om drie houtpale te steel.
Die veiligheidsheining is skaars 'n maand gelede teen meer as R100 000 opgerig juis om mense en veral kinders van die kragstasie weg te hou.
Skaars twee kilometer vandaar het diewe dieselfde aand 'n transformator oorkant die Bridgton-biblioteek en -kliniek oopgebreek en 'n koperkabel van ongeveer 'n meter gesteel. Hulle het op die koop toe, sommer ook twee van die transformator se staaldeure afgebreek en gesteel.
Alhoewel 'n presiese bepaling van die skade nog nie op navraag ontvang is nie, meen 'n amptenaar met kennis van albei die persele, dat die skade waarskynlik meer as R10 000 beloop. Behalwe vir dié verlies, was die kliniek, biblioteek en talle ander geboue Donderdag vir 'n groot gedeelte van die dag sonder krag weens die vandalisme en diefstal.
As voorsorg teen moontlike diefstal en om gesteelde eiendom te identifiseer, is die veiligheidsheining by die substasie sowel as die houtpale met die oprigting met rooi verf gemerk.
Enigiemand wat dalk houtpale wat met rooi gemerk is en groen staaldeure van 'n transformator opmerk, word gevra om die polisie by 044 203 9000 te kontak.
'n Gedeelte van die transformator waar 'n kabel afgeknip is. Foto's: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'