OUDTSHOORN NUUS - Een van die vyf verdagtes wat van besit van ongeslypte diamante aangekla word het Maandag in die Oudtshoorn-landdroshof as tolk vir twee van sy mede-beskuldigdes opgetree omdat ‘n Sotho-tolk nie beskikbaar was nie.
Borgtog van R2 000 is aan drie van die vyf beskuldigdes toegestaan.
Vier van die verdagtes, Martin Botha (31), Moeketsi Matjoba (31), Jagdeep Singh Multani (28), en Mongeotywa Fefe (33) is verlede week by die Pick & Pay Mall in hegtenis geneem met twee ongeslypte diamante ter waarde van sowat R20 000 in hul voertuig.
Die vyfde verdagte, Divan Ernest (25) van Oudtshoorn, is oor die naweek gearresteer.
Landdros Johan Steynberg het op instemming van die staat, borgtog aan Multani, Fefe en Ernest toegestaan terwyl Botha en Matjoba, albei van Lesotho, in aahouding bly hangende uitklaring ten opsigte van hul verblyf in Suid Afrika, van die Departement Binnelandse Sake.
Die landdros het die staatsaanklaer, versoek om seker te maak dat ‘n Sotho-tolk gereël word en die saak is tot 10 September uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'