Update
OUDTSHOORN NUUS - Verskeie instansies het Vrydagmiddag saamgewerk vir veiligheidsbewusmaking en sigbaarheid van misdaadbekamping.
Die provinsiale verkeersdepartement, verskeie sekuriteitsmaatskappye, Oudtshoorn-besigheidskamer, -munisipaliteit, -taxivereniging en -polisie was deel van die inisiatief wat deur AfriFrorum gereël is.
'n Konvooi van bykans 30 voertuie het om 17:00 vanaf die Queen's-winkelsentrum deur die dorp en dele van Bridgton en Bongolethu gery waarna hulle in Parkweg saamgekom het en wors gebraai het.
Chris Macpherson, uitvoerende burgemeester, was ook deel van die inisiatief en het die wens uitgespreek dat dit sal lei tot uitstekende samewerking tot voordeel van die hele gemeenskap.
Daarna het die AfriForum-buurtwag, wat sektore van Rooiheuwel, Volmoed, Oudtshoorn-Noord en Wesbank insluit, met deurnag-massapatrollie begin.
Talle inwoners het op sosiale media hulle dank vir die inisiatief gedeel.
'n Leser het op Oudtshoorn Courant se Facebook-blad geskryf: "Baie mooi gebaar. Oudtshoorn het dit nodig. Laat ons saam hande vat en Oudtshoorn in 'n veilige omgewing vir inwoners sowel as gaste omskep. Dis 'n groot ligpunt in die regte rigting."
Die eerste deurnagpatrollie is in Maart gehou en slegs buurtwagte het daaraan deelgeneem.
Volgens Johan Conradie, plaaslike voorsitter van AfriForum, was Vrydag-aand se deurnag-massapatrollie deel van die landswye AfriForum-deurnag-massapatrollies wat drie keer per jaar plaasvind en word daar beoog om binnekort weer een te hou.
Hendrik Kotze, AfriForum se veiligheidsvoorsitter op Oudtshoorn, het gesê: "Ons sien met aksies soos dié hoe gemeenskappe, binne die raamwerk van die wet, eienaarskap neem van hulle eie veiligheid en doelgerig 'n netwerk van samewerking vestig om op só 'n manier hulle voorspoedige voortbestaan te verseker."
Verskeie veiligheidsinstansies het Vrydagmiddag by Queens-winkelsentrum bymekaargekom om bewusmaking en sigbaarheid van misdaadbekamping in die dorp te skep. Foto: Wyndham Ewerts
Vorige artikel: Deurnag-misdaadpatrollie in dorp
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'