Update
OUDTSHOORN NUUS - Anti-boeliemaand word jaarliks deur die Wes-Kaapse departement van onderwys gedryf om voorkoming en bewusmaking te bewerkstellig onder skole.
Boelie in die moderne samelewing
"Nelson Mandela het gesê dat ons kinders ons grootste skat is en dat hulle ons toekoms is. Ons weet almal dat dit ‘n gemeenskap neem om kinders groot te maak. Kom ons kyk uit vir mekaar. Wees betrokke by jou kind, hou jou kind veilig en kry hulp indien dit nodig is," sê Marisa Lindique, maatskaplike werker by die departement van onderwys.
Statistiek en nuusgebeure spreek van die omvang van boeliegedrag in ons samelewing en skole, dikwels word daar berig oor kinders wat die skool verlaat en selfs selfdood pleeg in ‘n poging om van boeliegedrag te ontsnap.
Boeliegedrag is so oud soos die berge en elke volwassene kan daarvan getuig. Waar boeliegedrag voorheen tot die skool beperk was, het tegnologie daardie grense oorgesteek.
Tegnologie stel 'n boelie in staat om die slagoffer op enige plek en tyd te bereik. Ons jongmense se huise, wat veronderstel is om ‘n veilige plek te wees, word dikwels deur die kuberboelie geïnfiltreer en bedreig.
Kuberboelie neem verskillende vorme aan deur sosiale netwerke soos WhatsApp, Facebook, TikTok ensovoorts, en neem daagliks toe.
Die gevaar hiervan is dat ons as ouers dikwels nie ingelig genoeg of beskikbaar is om ons kinders se interaksie op sosiale netwerke te monitor nie. Wat dinge verder bemoeilik is dat ons kinders dit dikwels 'n geheim hou, uit vrees dat hul foon of rekenaar afgevat sal word.
Boelie het ‘n langtermyneffek op die psigiese funksionering van die slagoffer. Talle volwassenes sukkel steeds jare later met ‘n lae selfbeeld, depressie of eetversteurings weens boelie tydens hul kinderjare. Dit gebeur soms ook dat ‘n slagoffer van boelie, later onbewustelik, self ‘n oortreder word.
Statistieke dui daarop dat die boelie (oortreder) ‘n groter kans staan om kriminele oortredings te begaan, hul eie gesin aan mishandeling bloot te stel of om depressie te ontwikkel.
Ons as gemeenskappe het dus ‘n verantwoordelikheid om toe te sien dat ons jongmense bemagtig word met kennis en vaardighede om boeliegedrag die hoof te bied. Ons kan begin deur positiewe konflikhantering te modelleer en ons kinders te leer om diversiteit te aanvaar en te respekteer. Ons is elkeen uniek!
Verskillende tipes boelie:
- Fisiese boelie - enige fisiese dade soos slaan, byt skop, klap met die opset om te verneder of te beseer.
- Emosionele boelie – nie-verbale of verbale dreigemente, beledigings, kwetsende boodskappe.
- Sosiale boelie – Doelbewuste uitsluiting deur die verspreiding van onwaar stories of ignorering van die persoon.
- Seksuele boelie – Seksueel ontoepaslike notas, grappe, prente, aanraking, beledigings of seksueel onwaar gerugte.
- Kuberboelie – enige vorm boelie via sosiale netwerke/tegnologie.
Is terg en boelie dieselfde ding? "Nee, daar is ‘n wesenlike verskil."
- Boelie is wanneer iemand ‘n spesifieke persoon/groep doelbewus en herhaaldelik teiken met die doel om hul fisies of psigies te skaad.
- Terg vind gewoonlik tussen persone wat vir mekaar omgee plaas. Elkeen kry ‘n beurt om te terg en die motief is nooit om leed te veroorsaak nie. As een party sien dat ‘n ander seerkry staak hul die tergery onmiddellik.
Tekens dat my kind geboelie word
Kinders praat nie sommer daaroor dat hulle geboelie word nie, uit vrees dat hul geëtiketteer en as ‘swak’ beskou sal word. Die volgende is moontlike tekens dat jou kind geboelie word:
- Skielike veranderinge in gedrag-, slaap- of eetpatrone.
- Agteruitgang in skoolwerk en skoolbywoning.
- Verloor belangstelling in aktiwiteite wat voorheen vir hul lekker was.
- Begin onttrek van sosiale geleenthede en het ‘n lae selfbeeld.
- Voortdurende klagtes van fisiese simptome soos maagpyn, hoofpyn of ander pyne.
- Hoë angs- en spanningsvlakke.
- Selfbesering of praat van selfdood.
Hoe om my kind te ondersteun wanneer hy geboelie word
- Bou ‘n goeie verhouding - Verseker jou kind dat hul enige iets met jou kan bespreek. Hulle moet weet dat jy hulle bekommernisse ernstig opneem en sal help om hulle te beskerm. Moenie oorreageer as hul inligting met jou deel nie, jy wil kalm en ondersteunend optree en nie jou kind wegstoot of oordeel nie.
- Begin om met jou kind te gesels oor boelie - Voorsien inligting en kyk watter opsies daar is om boeliegedrag aan te spreek, werk saam aan ‘n oplossing.
- Boeliegedrag in skoolverband - Maak onmiddellik met jou kind se opvoeder kontak en werk saam aan ‘n plan van aksie. Indien dit onsuksesvol is nader die skoolhoof.
- Wees bewus van u eie gedrag - Kinders leer uit die voorbeeld wat gestel word.
- Help jou kind om strategieë en vaardighede te ontwikkel om boelie te hanteer bv. om boelie gedrag te ignoreer, humor in te span om die spanning te ontlont of om meer selfgeldend op te tree.
- Moedig jou kind aan om boeliegedrag aan te meld omdat dit die mag wat die boelie het verminder.
Riglyne om te volg wanneer u kind aanlyn geboelie word
- Moedig hul aan om nie op boodskappe te reageer nie.
- Verseker dat ‘n bewys van die boodskap gestoor word.
- Help u kind om die Boelie te “blok” en die Boelie op die spesifieke netwerk te rapporteer.
- Laat u kind toe om oor die voorval te gesels en reik uit, indien nodig, vir professionele hulp.
- Kuberboelie kan direk by die Suid-Afrikaanse Polisie Departement (SAPD) aangemeld word.
Ouers kan ook die volgende webtuistes besoek om meer inligting oor die gebruik van sosiale media te bekom:
Klop hier aan vir hulp:
- Childline - 080 0055 555
- Lifeline - 011 728 1347
- Veilige Skole (Wes-Kaapse onderwys departement) - 0800 454647
Plaaslike maatskaplike organisasies soos ACVV, FAMSA en skole
(saamgestel deur Marisa Lindique - maatskaplike werker by die departement van onderwys).
'Ons bring jou die nuuste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'