OUDTSHOORN NUUS - Die Power of Purple Relay for Life word weer die nag van 3 en 4 Februarie deur Kansa Oudtshoorn aangebied.
Die verrigtinge begin Saterdag 3 Februarie om 18:00 en eindig om 06:00 die volgende oggend.
Die inskrywingsfooi beloop R700 vir 'n span van tussen 10 en 15 lede.
Spanne stap deur die nag om die tartanbaan ter herinnering aan kankeroorwinnaars en die wat die stryd teen kanker verloor het.
Vir meer inligting oor die Relay for Life kan Riana Lindeque (076 471 7580 - rianalinde@gmail.com) of Amanda Koen (071 635 4196 - akoen@cansa.org.za) gekontak word.
Koen, wat fondswerwing in die Oudtshoorn Kansa-kantoor hanteer, verduidelik dat die Relay for Life Kansa se grootste fondswerwings is om hul primêre doel, pasiëntesorg, te vervul.
"Die welsyn en welstand van gediagnoseerde kankerpasiënte is van kardinale belang vir die personeel en vrywilligers van Kansa."
"Kansa funksioneer in twee afdelings, waarvan die een nie sonder die ander kan bestaan nie.
"Hierdie twee afdelings is fondswerwing en pasiëntesorg. Sonder geld kan die broodnodige toerusting en behandeling nie aan pasiënte verskaf word nie."
Vanuit Oudtshoorn bedien Koen en Liezl Kellerman Oudtshoorn en 18 ander dorpe.
Dienste wat deur Kellerman aan kankerpasiënte gelewer word is onder andere verskaffing van mediese toerusting soos riffelmatrasse, rolstoele, mobiele toilette, volwasse doeke en voedings-aanvullings.
Berading, emosionele en fisiese bystand word aan die pasiënte en ook die families gebied.
Die Kansa-kantoornommer is 044 272 2724 en die kantore is op die hoek van Hoog- en St. Saviourstraat, Oudthoorn geleë.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'