OUDTSHOORN NUUS - Cedric Africa (49), 'n oudgevangene wat verlede jaar na vyf jaar vrygelaat is, het verlede week sy debuutboek Kinders van die Hoorn gepubliseer.
Dié boek is 'n jeugroman waarin Africa die leser op 'n reis deur woonbuurte neem waar maatskaplike euwels soos werkloosheid en dwelmmisbruik aan die orde van die dag is.
In Africa se eie woorde is die doel van die boek om die jeug tot die besef te bring dat elkeen die potensiaal het om bo hul omstandighede uit te styg - basies 'n verhaal van hoop.
Africa vertel dat hy in sy hele lewe nooit aan homself as 'n skrywer gedink het nie. "Toe ek in 2016 gevonnis is, het ek 'n doelbewuste besluit gemaak om my tyd sonder negatiewe voorvalle uit te dien. Ek het toe vir tydverdryf begin om kortverhale te skryf. Eendag het 'n bewaarder gevra om my werk by sy huis te lees. Toe hy die volgende dag terugkeer was hy in sy skik en gesê dat hy my stories vreeslik geniet het. So het ek my confidence opgebou, en van toe af het ek vuriger begin skryf; soveel so dat meer mense my stories begin aanvra het. Net daar en dan het ek besluit om my eerste boek aan te pak wat ek deur middel van die Vader se goedgunstigheid in die tronk voltooi het."
Africa sê dat hy na sy vrylating vir Malherbe Uitgewers gekontak het vir advies om sy boek te publiseer.
"Ek het my manuskrip vir hulle gestuur, en na 'n paar dae het hulle my meegedeel dat Kinders van die Hoorn goedgekeur is vir publikasie. 'n Rukkie voor dit het ek twee van my kortverhale, Met liefde vir Mamma en Bloedgeld, by die Kaapse Son-koerant gesubmit waar ek ook my debuut gemaak het."
Die digter, Peet Vermaak en skrywer, Annalize Hills, tel onder figure in die skryfwêreld wat positiewe terugvoering oor Africa se boek gegee het.
Kinders van die Hoorn kan by Amozon Kindle, Bargain Books of by Africa by 083 343 1579 bestel word. Volgens Africa is hy reeds besig met nog 'n boek, getiteld Skarrelkind.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'