DE RUST NUUS - 'n Man van De Rust, wat sy meisie vermoor het, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof 15 jaar tronkstraf opgelê nadat hy skuldig gepleit het.
Niklaas Makier (43) en die oorledene het die betrokke aand saam met vriende gekuier toe sy later by die huis uit is.
Makier het haar gevolg en die vriende het haar later om hulp hoor roep.
Toe hulle gaan kyk het, het hulle haar liggaam in 'n sloot gevind en Makier nêrens gesien.
DNS van die oorledene, wat later op die bebloede klere van die beskuldigde gevind is, het hom tot die moord verbind.
Makier se regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel, het die hof gevra om af te wyk van die minimum vonnis van 15 jaar en 'n gedeeltelike opgeskorte vonnis of een ingevolge Art 276 (1) (i) te oorweeg.
Die beskuldigde het geen vorige veroordelings nie en sy verantwoordelikheid aanvaar deur skuldig te pleit.
Volgens die staatsaanklaer, Brandon Smith, is Makier aan die ernstigste misdaad skuldig bevind.
"Wat verswarend is, is dat die beskuldigde en die oorledene in 'n verhouding was. 'n Lewe is nie verloor soos wat die verdediging sê nie, maar geneem en die enigste vonnis daarvoor is 'n lang tyd in die tronk."
Die oorledene se pa het die hof gevra om Makier lewenslange gevangenisstraf op te lê.
Streeklanddros Sylvia Mandla het met vonnisoplegging gesê alhoewel Makier 'n eerste oortreder is, en skuldig gepleit het, hy nie ligtelik gevonnis kan word nie.
"Die oorledene laat 'n sesjarige kind agter en was haar familie se enigste broodwinner. Gesinsgeweld het 'n euwel in Suid-Afrika geword en oortreders moet swaar gestraf word om te verhoed dat gemeenskappe vertroue in die howe verloor en die reg in eie hande neem," het die landdros gesê.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Karoo nuus'