DE RUST NUUS - De Rusters staan gereed om besoekers hierdie naweek met die eerste De Rust-Meiringspoortfees te ontvang. Die fees begin Vrydag en duur tot Sondag.
'n Kunsuitstalling op die hoek van Kerk- en Schoemanstraat lui die opening van die fees Vrydagaand in. Saterdag word die hoofstraat in 'n dorpsmark omskep met uitstallings op die sypaadjie.
Deur die loop van die dag is daar perderitte en uitstappies. Die hoogtepunt van die fees is Saterdagaand se funksie wat om 17:00 begin met musiek en skemerkelkies by die Meiringspoort-waterval en eindig met 'n skuurete op die plaas Meiejersrust.
Die fees word Sondag met 'n kerkdiens afgesluit.
Volgens die organiseerders het hulle op September besluit aangesien dit Erfenismaand is en die fokus op die dorp en poort se natuurerfenis val. 'n Verdere mikpunt is om die dorp as toerismebestemming te bemark. Die fokus strek egter verder as bloot die fees.
Verskeie langtermyn skoonmaak- en opruimingsprojekte word ook aangepak om die dorp en omgewing rommel- en graffitivry te kry.
Vir verdere inligting skakel Callie Burger of Willie Immelman by 082 455 5487 of 082 952 2001.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'