OUDTSHOORN NUUS - Die oorname van die munisipale skut deur die dierebeskermingsvereniging (DBV) is steeds nie gefinaliseer nie.
Die Oudtshoorn Courant het verlede jaar berig dat die DBV, na hulle in 2013 uit Oudtshoorn onttrek het, weer die skutdienste in Oudtshoorn sou oorneem.
Frieda Janse van Rensburg, bestuurder van Tuinroete DBV, het Julie verlede jaar gesê dat die oorname in Oktober 2017 sou wees.
Weens kwessies wat eers tussen die DBV en die Oudtshoorn-munisipaliteit uitgeklaar moes word het die datum na April vanjaar geskuif, maar dit blyk dat dit steeds nie gaan gebeur nie.
Janse van Rensburg het die week per e-pos gesê dat die kontrak tussen hulle en die munisipaliteit steeds nie geteken is nie, maar dat die proses in die finale stadium is. Sy het verder gesê dat die nuwe area by die munisipale depot is.
Volgens haar is daar nog geen finale datum vir die oorname uitgesit nie en kan die DBV eers na die nuwe perseel skuif wanneer die hokke gebou is.
Janse van Rensburg sê hulle het nog "geen idee" wanneer die DBV finaal gaan oorneem nie.
"Daar is nog nie met die nuwe hokke en kantore begin nie. Die planne moet bespreek word want daar is te min geld beskikbaar om onmiddellik volgens die planne te bou.
"Tensy die Oudtshoorn-gemeenskap goedgunstiglik bydra of belê om die nuwe skut te bou volgens die planne, met antwoorde hoeveel hokke nodig sou wees, ensovoorts. Ons kan nie oorneem as daar nie hokke en 'n kantoor is om diere te ontvang nie."
Die Oudtshoorn Courant het twee weke gelede 'n navraag aan die Oudtshoorn-munisipaliteit oor die oorname van die DBV gestuur, maar dit is steeds nie beantwoord nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'