OUDTSHOORN NUUS - Dit blyk dat die oorname van die munisipale skut deur die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging nog 'n wyle kan duur.
Die Oudtshoorn Courant het in Julie vanjaar berig dat die DBV op 1 Oktober met hul dienste in Oudtshoorn sou begin.
Frieda Janse van Rensburg, bestuurder van Tuinroete DBV, het in Julie tydens hul algemene jaarvergadering in George gesê hulle is in April verlede jaar deur die munisipaliteit geskakel en gevra of die DBV bereid sal wees om weer die skut te bestuur.
"Daar was onderhandelinge tussen ons en die munisipaliteit. Die munisipaliteit het dit geadverteer en ons het dit toe gekry."
Volgens haar moes hulle net die dienskontrak goedkeur en teken en dan sou die oorhandiging finaal gewees het.
Janse van Rensburg het verlede week aan die Oudtshoorn Courant gesê die dienskontrak is nog nie geteken nie.
"Daar is intussen 'n geskikte perseel geïdentifiseer, maar die hokke moet nog gebou word en die bestaande kantoor moet opgradeer word.
"Tentatief sal ons dus eers volgende jaar teen April oorneem as alles goed gaan."
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, sê die kontrak tussen die munisipaliteit en die DBV is nog nie geteken nie omdat die DBV wil hê dat sekere formaliteite nog afgehandel moet word voor hulle die skut oorneem.
Dit sluit in dat nie skut se dienste na 'n ander gebou moet skuif.
Nóg die munisipaliteit nóg Janse van Rensburg kon sê na watter perseel die skut geskuif gaan word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'