OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) kry eersdaags ‘n waardevolle toevoeging tot die span. En dié is nie sommer enige Jan Rap nie.
Ná 17 jaar van toegewyde diens by die Tuinroete-DBV het senior inspekteur Salomé Bruyns, besluit om dié dierewelsynsorganisasie te groet en by Odin aan te sluit.
Bruyns sluit in Maart by Colleen Smith en haar span by Odin aan.
Odin het in Januarie ‘n tak op Tantivvey-gasteplaas in George geopen waar hulle troeteldier-aannemings fasiliteer en tydelike verblyf vir troeteldiere aanbied. Bruyns sal by albei takke, Oudtshoorn en George, betrokke wees.
Smith is oënskynlik opgewonde om Bruyns by die Odin-span te verwelkom.
“Ons het Salomé se toewyding aan diere nog altyd bewonder en weet dat sy ‘n briljante toevoeging tot die span is. Haar passie, kennis en morele waardes pas perfek in by ons. Ons doelwitte is dieselfde en sy kan haar droom van dierebeskerming- en redding in alle aspekte by Odin uitleef,” sê sy.
“Ek is baie opgewonde om by Odin aan te sluit," het Bruyns aan die George Herald gesê.
"Ek is reg vir die groot uitdaging om van ‘n sterk organisasie soos die DBV na ‘n kleiner een te skuif om hulle te help bou aan ‘n wat reeds ‘n suksesvolle organisasie is. Ek het die wêreld se respek vir Colleen se absolute passie vir elke liewe hond waarmee sy in aanraking kom. Ek verlaat die DBV met ‘n swaar hart."
Bruyns is steeds meer as bereid om die DBV by te staan in noodsituasies of wanneer hulle van haar dienste gebruik wil maak.
“Hulle bly ‘n groot deel van my lewe. Ek verdwyn nie van die aardbol af nie en hulle weet hulle is enige tyd welkom om my te kontak vir advies of bystand.”
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo nuus'