OUDTSHOORN NUUS - Sondag was internasionale kanker Survivor-dag en Kansa se Oudtshoorn-tak het Maandag 'n spesiale geleentheid vir die oorwinnaars van Oudtshoorn gehou.
Suezette Smit, 'n motiveringspreker, het met die oorwinnaars gepraat oor haar uitdaging toe sy en haar man Kilimanjaro uitgestap het.
Volgens haar het sy op haar pa, wat ook aan kanker dood is, se verjaarsdag die piek van die berg bereik.
"Die toer op teen die berg het my baie geleer. Ons het 'n lysie met name van 25 kankeroorwinnaars by ons gehad en ek het vir elkeen 'n vulkaanklippie teruggebring om hulle te eer. Dit het my ook laat dink aan die "berg" wat elkeen van die kankeroorwinnaars moet stap."
Adriana Robinson, een van die oorwinnaars wat die geleentheid bygewoon het, het ook haar storie gedeel oor hoe sy drie keer kanker oorwin het. Die gaste het elkeen 'n spesiale pakkie van Kansa ontvang en Sport Buddy, 'n plaaslike liefdadigheidsorganisasie, het kos aan die gaste voorsien. Jane Hartzenberg het vir die gaste gesing.
Adri Odendaal, volhoubaarheids- en dienskoördineerder van Kansa, het al die borge bedank wat dit moontlik gemaak het om die dag spesiaal te maak.
Enigiemand wat by Kansa betrokke wil raak kan haar by 072 133 0444 skakel.
Lede van Sport Buddy wat die kos voorsien het saam met Adri Odendaal, volhoubaarheids- en dienskoördineerder van Kansa (voor in die middel).
Adriana Robinson, een van die kankeroorwinnaars, deel haar storie.
Suezette Smit was die spreker van die dag.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'