OUDTSHOORN NUUS - Dit blyk dat onderlinge geskille tussen die DA-raadslede vir ten minste een raadsvergadering bygelê is en eenstemmigheid bereik is oor kwessies.
Die raadsvergadering wat Maandag gehou is, het twee agendapunte gehad wat groot belangstelling uitgelok het.
Mosies van wantroue is deur opposisieraadslede ingedien teen die onderburgemeester, Noluthandu Mwati, en die speaker, Julia le Roux. Albei mosies is deur Vlancio Donson (Icosa) en Jevan Juthe (Sarco) voorgestel en gesekondeer.
Le Roux het die mosie teen die onderburgemeester afgewys aangesien die artikel waarvolgens dit aangebied is, foutief was.
Met die mosie teen die speaker het die DA-raadslede saamgestem om Jerome Lambaatjeen as interim speaker te verkies om die mosie te hanteer. Die mosie is afgeweer met 'n meerderheidstem van 13 (DA) teenoor 10 (ANC, EFF, Sarco en Icosa). Een DA-raadslid kon weens siekte, nie die vergadering bywoon nie.
Die aanstelling van 'n geskikte persoon in die pos as direkteur van tegniese dienste is volgende bespreek en sal weer voorgelê word.
Die res van die vergadering het in komitee geskied waartydens die Webber-Wentzel-verslag hanteer is.
Die volgende raadsvergadering is môre, Vrydag 24 Julie, waartydens die nuwe DA-raadslid, Chris McPherson, as burgemeester ingestem moet word.
Die burgemeesterspos het vakant geraak toe Colan Sylvester verlede maand bedank het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'