OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Courant het 'n aantal weke gelede vier mites wat die ronde doen oor voorkoming van Covid-19 geplaas. Van die mites duik tans weer op sosiale media op.
Die verduideliking van die ware feite rondom die mites kom van dr. Lisa Maragakis, senior direkteur van infeksievoorkoming by die Johns Hopkins-navorsingshospitaal in Amerika.
Dr. Wessel Vermeulen, plaaslike mediese praktisyn waarsku ook dat sommige "voorkomingsmaatreëls" skade aan die liggaam kan aanrig.
Mite: Die virus wat Covid-19 veroorsaak is met opset in 'n laboratorium gemaak en vrygelaat
Antwoord: Dit gebeur soms dat virusse wat onder diere voorkom op een of ander wyse na mense oorgedra word. Volgens kenners is dit met Covid-19 ook die geval.
Mite: Om met bleikmiddel te gorrel of dit in te neem sal die virus vernietig. Sommiges beweer ook dat soutwater, ethanol en koeksoda die virus sal vernietig.
Antwoord: Om bleikmiddel op enige wyse in te neem kan ernstige skade aan die slukderm en maag veroorsaak. Volgens die WGO (Wêreld Gesondheidsorganisasie) is daar tans geen geneesmiddel teen die virus nie en sal boererate ook nie help nie.
Mite: Die virus kan vernietig word deur alkohol of chloor oor jou liggaam te spuit.
Antwoord: Dit kan skade aan die liggaam aanrig en ook slymvliese beskadig. Dit kan eerder gebruik word om oppervlaktes te ontsmet.
Mite: Hitte vernietig Covid-19 en daarom sal warm lug wat in die lugweg ingeblaas word, soos byvoorbeeld met 'n haardroër, die virus vernietig.
Antwoord: Daar is geen wetenskaplike bewys dat hitte 'n pasiënt sal genees nie, om warm lug in te asem of uitermatig warm vloeistowwe te sluk kan skade berokken.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'