OUDTSHOORN NUUS - Die Country Club op Oudtshoorn is tans besig met verskeie insamelings vir boere in nood.
Volgens Heinrich Westraad van die Country Club, het hulle verlede week 'n potjiekoskompetisie gehad en is hulle ook besig om lootjies te verkoop.
"Ons het tot op hede R6 000 ingesamel. Die fondse kom steeds omdat ons steeds skenkings kry en steeds lootjies verkoop. Ons wil graag dit wat ons ingesamel het vir boere in ons eie omgewing gee wat weens die droogte swaarkry," het hy gesê.
Volgens hom was die potjiekoskompetisie groot pret en is hulle dankbaar vir almal se bydrae.
"Ons wil graag spesiaal aan Mondre Engelbrecht, Oudtshoorn Inn, Cornel Landman, Dawid Greeff, TimberCity, Jacques Berry, Jacques Theart (Theart Sement Werke), Jaco Engelbrecht, Leon van Molendorff, Badenhorst Slagtery, Bushman Curios, Gerrie Snyman en Riaan Beyleveld dankie sê en ook aan ons beoordelaars Carol Minnie, Theresa Rossouw Mathee en Leon Liebenberg."
SAFAM se Gerrie Snyman en sy spanmaat, Faan le Roux het met die groot prys weggestap. Daar is ook pryse vir die beste spangees, beste stalletjie en beste bykosse oorhandig.
Enigiemand wat 'n bydrae vir die boere in nood wil maak kan Westraad by 079 516 8911 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'