OUDTSHOORN NUUS - 'n Skenking van fondse deur 'n barmhartige Samaritaan aan die Coronation Versorgingsoord en Dienssentrum in Oudtshoorn het dit vir inwoners van die oord en ook die personeel moontlik gemaak om bietjie gemakliker en veiliger te wees.
Oudtshoorn Courant het onlangs gaan inloer by die oord om te sien wat tot dusver met die R50 000-donasie vermag is.
Volgens Joey McKay, 'n inwoner van die dorp wat help om die fondse te fasiliteer, is daar tot op hede nuwe rakke in die inwoners se klerekaste aangebring en is 'n noodknoppiestelsel by die siekeboeg.
McKay vertel, "'n Kankerpasiënt van my, mev. Van Dalen, wat in 'n ander aftreeoord gewoon het, is onlangs oorlede en was bevriend met Joey Nel en het die bedrag van R50 000 vir Nel nagelaat. Nel het geweet ek is betrokke by die versorging van ouer mense in die dorp nadat Van Dalen haar van my vertel het. Toe ek hoor van die donasie het my bene sommer begin bewe; want nou het ek al hierdie geld gekry en gewonder waar ek moet begin."
Dit is waar McKay besluit het om die geld by Coronation aan te wend omdat sy voorheen ook daar 'n pasiënt gehad het. Oor die jare heen het McKay donasies van byvoorbeeld vrugte en groente na Coronation gebring omdat sy die nood daarvoor gesien het.
"Ek het by Coronation gekom en gesien daar is verdere nood. Die pad binne die oord het soos dongas gelyk, die inwoners se klerekaste was slegs hangkaste met geen pakplek nie en daar was 'n noodknoppiestelsel by die siekeboeg nodig ingeval 'n inwoner byvoorbeeld val en nie self kon opstaan nie."
Sy voeg by dat sy probeer betaal het vir die regmaak van die pad, maar dat die eienaars van Van der Berg Vervoer, Hugo en Danie gratis gehelp het met die pad.
Kassies met rakke vir die inwoners se klerekaste is deur ds. Johan Rudwen van die Baptiste Kerk gebou.
'n Plaaslike maatskappy, Tech Connection, het die noodknoppiestelsel aangebring teen 'n drasties-verlaagde koste van R22 000. 'n Vorige kwotasie deur 'n ander maatskappy het meer as R140 000 beloop. Hierdie knoppiestelsel is koordloos en werk met 'n afstandbeheerder. Dit laat inwoners van die siekeboeg toe om vir hulp te roep wanneer nodig.
Volgens McKay sal die res van die fondse op soortgelyke wyse aangewend word om beide inwoners en die personeel se lewens te vergemaklik en te beveilig.
Van die nuutgeboude rakkies verseker dat inwoners se klerekaste mooi netjies lyk.
Die afstandbeheerde noodknoppies wat dit makliker maak vir inwoners om vir hulp te roep indien nodig. Die beheerpaneel maak dit moontlik vir die oord se personeel om te identifiseer wie hulp nodig het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’