OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF) het Dinsdag by die Bridgton-sportgronde vir die negende jaar 'n suksesvolle Erfenisdag aangebied.
Volgens Phillip Seroux was die fees, soos vorige jare, 'n reusesukses en het dié organisasie weereens gewys dat hulle waarde kan toevoeg tot Oudtshoorn se gemeenskap.
OCJF is ook vroeër vanjaar bekroon as die organisasie met die beste rekreasieprogramme in die Eden-streek. Seroux sê dat dit vir hom 'n riem onder die hart is om te sien hoe dié dag verskillende kulture bymekaar bring om Erfenisdag saam te vier.
"Dis waaroor dit gaan. Ons aanvaar en vier mekaar se verskille sodat ons 'n erfenis aan ons kinders kan nalaat waarop hulle kan trots wees."
Voor die aanvang van die vieringe is honderde lede van die gemeenskap deur 'n blaasorkes deur die strate begelei.
Verskeie aktiwiteite soos rieldans, sewesrugby, dominos, potjiekos, netbal en bordpeletjies het vermaak aan oud en jonk verskaf. OCJF bedank graag al hul borge wat dié dag jaarliks moontlik maak.
Netbalspelers in aksie.
Diie blaasorkes kom by die Bridgton-sportgronde aan. Foto's verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'