Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - 'n Gesamentlike inisiatief tussen VulPro, CapeNature en Cango Wildlife Ranch het verlede week gelei tot die rehabilitasie en vrylating van 'n Kaapse aasvoël.
Volgens Tammy Moult, toerismebestuurder van Cango Wildlife Ranch, is VulPro, gebaseer op die buitewyke van Hartebeespoortdam in die Noordwes-provinsie en is hulle 'n gespesialiseerde aasvoëlbewaringsorganisasie wat ook spesialis-rehabilitasie van aasvoëls onderneem.
"Op 31 Julie vanjaar is 'n aasvoël waargeneem wat met sy vlerk aan 'n telefoonpaal vasgesit het. Die beseerde aasvoël het op die grond geval, en tussen VulPro en CapeNature is ’n span uitgestuur om die voël te red. Die voël is na die Oakhurst Dierekliniek in Swellendam geneem, waar dit X-strale, vloeistowwe, wondbehandeling en antibiotika gegee is. Op VulPro se versoek is Cango Wildlife Ranch vir hulp genader en is die voël gaan haal."
Die span van Cango Wildlife Ranch het, met die hulp van hul veearts by Oudtshoorn Veeartsenykliniek, nog 'n deeglike ondersoek laat doen.
"Gelukkig het die voël geen frakture opgedoen nie, en met die nodige medikasie het die span teruggekeer na die fasiliteit waar die aasvoël in hul sorgsentrum op die perseel gehuisves is. Die aasvoël was saam met 'n ander aasvoël, wat ook daar was vir rehabilitasie gehuisves, en omdat hulle sosiale diere is het die interaksie met mekaar geweldig baie met die herstelproses gehelp."
Die aasvoël word vrygelaat.
Volgens haar het dit 'n paar dae geneem voordat hierdie aasvoël weer krag gekry het. Albei voëls se genesingsreise het saam verloop en die voëls is saam na 'n buitelugvolière op hul privaat reservaat geskuif.
VulPro het 'n verteenwoordiger na Cango Wildlife Ranch gestuur om 'n spoorsnyer op die voël te plaas, en terselfdertyd is planne vir die vrylating uitgevoer.
Die voël is op 4 September na die Potteberg Gasteplaas, langs die De Hoop Natuurreservaat, geneem. Die tuiste van die enigste bekende aasvoëlkolonie in die Wes-Kaap en hy is veilig daar vrygelaat.
"Hierdie ongelooflike suksesverhaal is moontlik gemaak deur die samewerking en sorg van alle betrokke partye; van die eienaar van Potteberg Gasteplaas, tot die wonderlike personeel by De Hoop Natuurreservaat, die publiek wat ons in kennis gestel het van die lot van die voël, die pogings van CapeNature, VulPro en hul voorste kundigheid, die veeartse wat gehelp het, en Cango Wildlife Ranch vir hul behuising en versorging."
SUPPLIED VIDEO - Collaboration for conservation allowed for the release of a Cape Vulture (Video: Cango Wildlife Ranch).
Die aasvoël word ondersoek.
DIe beseerde aasvoël se vlerk.
Die span wat met die vrylating en rehabilitasie van die aasvoël gehelp het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’