OUDTSHOORN NUUS - Personeel van Cango Wildlife Ranch was Saterdag 6 Junie stomgeslaan toe 'n onverwagte skenking deur Gift of the Givers by hulle afgelaai is.
Volgens Mari-Lize Warrington, bemarkingsbestuurder van Cango Wildlife Ranch is die onderneming platgeslaan deur Covid-19-inperkingsmaatreëls.
"Wat ons getref het, het duisende ander besighede wat in die toerismebedryf is, ook getref. Met geen toeriste wat mag reis nie is die toekoms vir ons baie donker," het sy gesê.
Volgens haar het die pandemie nie net daartoe gelei dat alle nie-noodsaaklike uitgawes gesny moes word nie, dit het ook veroorsaak dat die grootste gedeelte van hulle personeel nou van die Werkloosheidsversekeringsfonds afhanklik is. "Dit beteken dat ons personeel tans op die absolute minimum moet oorleef totdat die verbod op toerisme uiteindelik opgehef word." Warrington sê onder hierdie omstandighede was Saterdag 'n feesdag toe Gift of the Givers, Afrika se grootste hulporganisasie, na Cango Wildlife se families uitgereik het. "Hulle het met Carmen Ellis, bestuurder van die Cheetah
Preservation Foundation, gereël om Saterdag kospakkies vir die gesinne af te laai, maar wat ons ontvang het was veel meer as slegs kospakkies. Die skenking is 'n groot bydrae aan ons mense om hulle te help om in hierdie moeilike tye te oorleef.
Met slegs 20 van die onderneming se 90 personeellede wat tans werk is die taak om na al die diere om te sien enorm, maar van die personeel wat nie betaal kan word nie is so lojaal dat hulle steeds sonder vergoeding vir werk aanmeld. Behalwe vir kommer oor hulle personeel moet Cango Wildlife tans bykans R2 miljoen per maand vir bedryfskoste opdok. Hulle het meer as 400 diere en duisende visse wat versorg en gevoer moet word, munisipale dienste moet betaal word en daar moet ook na diere se gesondheid omgesien word.
Volgens die bestuur is hulle daagliks besig om borge te soek en op verskeie plekke om hulp aansoek te doen om te verseker dat dié onderneming wat reeds vir 35 jaar toeriste na Oudtshoorn lok, kan bly voortbestaan.
Enige instansie of persoon wat hulle kan ondersteun word gevra om hulle by 044 272 5593 te skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'