Gallery
CALITZDORP NUUS - Getrou aan die Klein-Karoo kan niks die geesdrif en deursettingsvermoë van sy inwoners demp nie.
Om 'n naweekfees tydens vlak-3-inperking aan te bied, neem goeie voorbereiding en toewyding en deeglike voorsorgmaatreëls, maar Calitzdorpers het dit vermag.
Die eerste Calitzdorp Uncorked-fees het die afgelope naweek plaasgevind.
Volgens Michael Forster, een van die organiseerders, was die hoofdoel van die fees om besoekers te wys wat Calitzdorp so 'n unieke bestemming maak. Volgens hom het besoekers selfs van so ver as Gauteng, Port Elizabeth en Kaapstad gekom.
Behalwe vir die dorp se wêreldbekende wyn, port en gedistilleerde drank, is Calitzdorp en die omgewing 'n skatkis van interessanthede.
Gewapen met "paspoorte" kon die besoekers wynproe, etes geniet, musiek luister, kuns waardeer en unieke vervoer op die twee wynroetes, Tinta en Hanepoot, gebruik.
Vir die meer aktiewe besoekers was daar ook geskiedkundige uitstappies en 'n pretdraf. Verskeie plaaslike besighede het hand in die sak gesteek en met borgskappe bygedra tot die sukses van die fees.
Fotogalery: Calitzdorp Uncorked
Met die aankondiging van vlak-3-inperking moes die bestaande voorsorgmaatreëls ten opsigte van Covid-19 hersien word en toegang tot lokale en aanbiedinge is streng beheer om te sorg dat lokale nie meer mense toelaat as wat voorgeskryf word nie. Saniteermiddels was oral beskikbaar en die dra van maskers was verpligtend.
Forster sê alhoewel daar 'n groot verskeidenheid van aktiwiteite was, was dit weereens die gulhartigheid van die dorp se inwoners wat die knoop deurgehak het.
"It was without a doubt the warmth and hospitality that everyone experienced that will remain in people's memories and will hopefully bring people back to Calitzdorp, our Klein-Karoo Dorpie with a caring heart, not only for our events, but also just to visit again."
Uit die reaksie van eienaars en bestuurder van talle persele wat Oudtshoorn Courant Saterdag besoek het, is dit duidelik dat die fees 'n groot sukses was en beslis weer aangebied sal word.
Vir meer inligting oor Calitzdorp en sy toerisme-geleenthede kontak Erina Meiring van Calitzdorp-toerisme by 044 213 3775 of per e-pos by tourism@calitzdorp.org.za of besoek hulle webblad www.calitzdorp.org.za
Besoekers kon wynproe, etes geniet, musiek luister en kuns waardeer.
Gewapen met "paspoorte" kon die besoekers die unieke vervoer op die twee wynroetes, Tinta en Hanepoot, gebruik.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'