OUDTSHOORN NUUS - Die jaarlikse uitpassering van nuwe soldate by die SANW Infanterieskool is Vrydag as gevolg van die inperkingsmaatreëls vir die eerste keer ooit sonder honderde ouers en familielede as toeskouers gehou.
Die weermagorkes se optrede sowel as ander vertonings is ook agterweë gelaat en maskers was aan die orde van die dag.
Die hoof van die weermag, genl. Solly Zacharia Shoke, het die 889 nuwe soldate (641 mans en 248 vroue), gelukgewens met die suksesvolle voltooiing van hul basiese opleiding van 18 weke en hulle aangemoedig om elke geleentheid wat die weermag bied met albei hande aan te gryp.
Met verwysing na Vrouedag het Shoke ook 'n beroep op die soldate gedoen om nee te sê vir die euwel van geweld teen vroue en kinders.
Oor die Covid-19-pandemie het Shoke gesê: "Dit neem soveel van ons om die verspreiding van die virus te bekamp, maar dit leer ons ook iets."
Shoke het klemgelê op die belangrikheid van dissipline en die nuwe soldate gevra om 'n voorbeeld te stel en 'n verskil in hul gemeenskappe te maak.
Hy het die nuwe soldate geloof vir hul dissipline wat nie ongesiens verbygaan nie en bygevoeg dat dit nie maklik is om so lank van die huis weg te wees nie.
"Soldaatwees is nooit 'n gelykpad nie en die toekoms behoort aan dié wat aan hul drome glo. Soldaatwees is nie 'n werk nie, maar 'n roeping. Dankie dat julle gekies het om jul land te dien. Julle is 'n spesiale groep jongmense."
Volgens Shoke is dissipline en nogmaals dissipline van die belangrikste vereistes vir 'n ware soldaat en is dit ononderhandelbaar.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'