DE RUST NUUS - 'n Buurtwagstelsel wat drie jaar gelede in De Rust ingestel is, het veral in die hoofstraat vrugte afgewerp, maar sukkel tans om genoegsame finansiële steun te kry.
In 'n pleidooi wat 'n inwoner Garth King, aan sakeondernemings en die gemeenskap gerig het, verduidelik hy hoe die huidige stelsel grootliks daartoe bygedra het om van besope bedelaars en "blomverkopers" in De Rust se hoofstraat ontslae te raak, maar dat dit geld vereis om dit vol te hou.
Na 'n streng keuringsproses is 20 buurtwaglede aangestel en twee van hulle is permanent in Schoemanstraat aan diens.
Hulle hou nie net 'n ogie op voertuie en sorg dat bedelaars nie besoekers lastig val nie, hulle is ook daar as "toeriste assistente" om besoekers se veiligheid te verseker.
Die buurtwag werk ook nou saam met die plaaslike polisie en word deur ao. Elsje Frey gekoördineer.
Een van die buurtwaglede wat sy werk ernstig opneem is die 20-jarige Nathan Jumaats, wat by Hoërskool De Rust gematrikuleer het en ook voorsitter is van 'n forum wat jeugmisdaad voorkom. Hy het aansoek gedoen om 'n polisiereservis te word en wil graag permanent by die mag aansluit.
Callie Burger, een van die stigters van die buurtwagstelsel, sê die gesamentlike vergoeding van die "toeriste assistente" beloop ongeveer R8 000 per maand en dié fondse is ongelukkig besig om op te droog. "Aanvanklik het 'n groot aantal van die besighede finansieel bygedra, maar dit het die afgelope tyd afgeneem.
Sommige besighede voel dat hulle nie spesifiek deur die kwessie geraak word nie, en wil dus nie bydra nie." Hy verduidelik dat daar ook nuwe besighede en intrekkers is, wat nie bewus is van hoe groot die probleem van bedelaars drie jaar gelede was nie.
"Tans trek die hele De Rust voordeel uit die buurtwag, maar slegs 'n handjie vol mense dra finansieel by, en dit begin nou onbekostigbaar raak."
In die skrywe noem King dat bedelaars en besope mense op straat die hele gemeenskap van De Rust raak en dat daar nie toegelaat kan word dat die probleem weer eskaleer tot waar dit ongeveer drie jaar gelede was nie.
"Wetteloosheid in die hoofstraat en in die res van die dorp het 'n negatiewe invloed op die hele dorp, ongeag of jy 'n besigheid het of nie"
Hy nooi inwoners en sakemense om met Callie Burger in verbinding te tree en ondersteuning te bied. Burger kan telefonies by 082 455 5487 of per e-pos by caburger@worldonline.co.za bereik word.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'