OUDTSHOORN NUUS - Chris Macpherson, uitvoerende burgemeester, was een van ongeveer 1 000 inwoners bo 60 wat teen verlede Donderdag die eerste van twee inentings teen Covid-19 ontvang het.
Hy het vroeg Donderdagoggend saam met talle ander by die Oudtshoorn-hospitaal aangemeld vir sy inenting.
Terwyl hy sy beurt afgewag het, het hy met die ander inwoners wat gewag het gesels en hulle bedank dat hulle die stap neem om die inentings te ontvang. "Ons moet verstaan dat die inenting nie net vir jouself is nie, maar veral vir die mense rondom jou." Hy het ook gesê dat die inentings 'n belangrike stap is om Oudtshoorn weer as 'n veilige toerismebestemming te vestig en om die dorp se ekonomie te stimuleer. Na afloop van sy inenting het hy gesê sy besoek het weereens bevestig dat gesondheidspersoneel in Oudtshoorn toegewyd, professioneel en uiters bekwaam is.
Soos die geval met almal wat die afgelope ruk die Pfizer-inenting ontvang het, moet Macpherson ook 'n tweede inenting na 42 dae ontvang.
Met die besoek van Oudtshoorn Courant aan die hospitaal Vrydagoggend het mense bo 60 reeds van voor 07:30 in die ry gewag. Beurtkrag wat om 08:00 toegeslaan het, het die proses 'n paar minute vertraag aangesien die rekenaarstelsel met die oorskakeling na die kragopwekker weer aanlyn moes kom. Vir die joernalis wat sommer terselfdertyd ook sy inenting ontvang het, het die proses uiters glad verloop.
Mense wat aanlyn geregistreer het en 'n SMS met 'n spesifieke datum en tyd ontvang het, het voorkeur gekry, maar die meeste mense wat aangemeld het, het nog nie 'n tweede SMS ontvang nie en is op 'n eerste-in-eerste-uit-basis gehelp. Mediese personeel dien nie eenvoudig net die inenting toe nie, hulle maak eers seker wat die ontvanger se mediese geskiedenis is, of daar enige allergieë is en watter medikasie tans gebruik word. Inligting oor moontlike newe-effekte word ook aan mense gegee. Nadat die inenting ontvang is, moet die ontvangers vir 15 minute in 'n wagkamer bly sodat enige negatiewe reaksie op die entstof onmiddellik opgemerk kan word.
Volgens Helen Human, adjunkdirekteur van verpleging in die Oudtshoorn-streek, verloop die inentingsprogram glad. Volgens haar het hulle na ongeveer 1 000 inentings teen verlede week nog geen negatiewe terugvoer ontvang het nie.
Inentings van mense bo 60 vind tans tussen 08:00 en 12:00 by die Oudtshoorn-hospitaal plaas, maar daar word ook beoog om dit later in die Toekomsrus-gemeenskapsaal te verskuif sodat mense sonder vervoer makliker toegang het. Intussen is daar ook gesondheidspanne wat plekke soos tehuise vir bejaardes en versorgingsoorde besoek om inentings toe te dien.
Mense word gevra om vir inentings te registreer op een van die volgende maniere en met jou ID byderhand:
- Aanlyn by https://vaccine.enroll.health.gov.za/#/
- Deur die woord REGISTER na 0600123456 te SMS
- Skakel *134*832#
Drie ingenome inwoners kort nadat hulle Vrydagoggend hulle inentings ontvang het. Foto: Hannes Visser
Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, gesels met mense wat vroeg Donderdagoggend gereed was vir hulle inenting.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'