April het Baird en sy aanlynnuusblad OudtshoornOnline in April gelykheidshof toe gesleep waar hy aangevoer het dat Baird sy menswaardigheid aantas en hom bespotlik maak deur na hom, die burgemeester van 'n dorp, te verwys as 'n standerd vier klong. Hy het Baird aangekla van haatspraak en R50 000 vergoeding geëis.
Die gelykheidshof het op 2 Augustus beveel dat Baird die burgemeester om verskoning moet vra en die verskoning binne 24 uur op sy blog OudtshoornOnline moet plaas. Baird moes ook onderneem om die verskoning aan beide koerante op Oudtshoorn aan te bied vir plasing. April se eis om R50 000 teen Baird is van die hand gewys.
April se prokureur, Clyde Avontuur, het verlede week sy misnoeë te kenne gegee dat die verskoning nog nie in die koerante verskyn het nie. Hy sê dat dit, volgens sy kennis, die eerste gelykheidshofsaak is wat sy oorsprong in Oudtshoorn het en dat dit 'n 'tikkie regsgeskiedenis' is.
In 'n brief aan die media sê Avontuur: "Op persoonlike vlak verwelkom ek die bevel. Dit is na my mening 'n groot oorwinning vir die grondwetlike reg tot menswaardigheid."
Baird stamp gereeld koppe met leiers, plaaslik sowel as nasionaal, oor die kontroversiële en prontuit wyse waarop hy politieke beriggewing op sy aanlyn nuusblad plaas en was al ook die teiken van dreigemente op sy lewe.
Sy verskoning aan April en bygaande onderneming lui as volg: Met verwysing na herhaalde publikasies op my blog OudtshoornOnline, waarin ek verwysing maak na uitvoerende burgemeester mnr. Gordon April as 'n "standerd 4 klong," onderneem ek onherroeplik om my voortaan te weerhou van die maak van sulke en/of soortgelyke verwy-sings wat die strekking mag hê om mnr. April te verkleineer en/of bespotlik te maak vanweë sy beperkte formele skoolopleiding. Ek onderneem verder om 'n ondubbelsinnige verskoning op my genoemde blog te publiseer in die volgende terme:
[Ek besef dat my verwysing na mnr. April as die "standerd vier klong" mnr. April te na gekom het. Ek aanvaar dat mnr. April se onderwyspeil toegeskryf kan word aan sosiale omstandighede buite sy beheer as gevolg van apartheidsbeleid. Ek vra hom om verskoning daarvoor.]
Terwyl 'n navraag aan die burgemeester ten opsigte van sy persoonlike reaksie oor die skikking teen saktyd nie ontvang is nie het Baird gesê: "Ek is verheug oor die burgemeester se openharigheid oor, soos die gelykheidshof bevind het, sy 'beperkte formele skoolopleiding' en die gepaardgaande mediadekking soos verlang deur sy prokureur."
Die gelykheidshof het ook beveel dat beide partye hul eie regskostes moet dra. Volgens Baird het hy sy eie verteenwoordiging behartig terwyl April glo van 'n prokureur en 'n advokaat gebruik gemaak het.

Alhoewel April se eis om R50 000 nie deur die gelykheishof toegestaan is nie het die hof beveel dat Drewan Baird hom onvoorwaardelik om verskoning moet vra en moet onderneem om die burgemeester nie te verkleineer deur na sy skoolopleiding te verwys nie.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR