Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Talle inwoners van Volmoed buite Oudtshoorn het Saterdagmiddag groot skade gely toe 'n vinnige haelstorm die gebied getref en 'n hele paar huis se dakke afgeruk is.
Die burgemeester van Oudtshoorn, rdl Colan Sylvester, het die gebied gisteroggend (Sondag) saam met sy direkteur van gemeenskapsdienste, Tommy Matthee, amptenare van die munisipale departement behuising saam met wetstoepassers besoek om eerstehands die skade wat aangerig is te bepaal.
Sylvester het die inwoners van Die Area en Die Eiland toegespreek en die versekering gegee dat die munisipaliteit so ver as moontlik sal help met dakplate en balke om hul huise weer toe te kry.
Van die inwoners wat die ergste deurgeloop het is 'n vrou, Katy Pinsloo, wat alleen in 'n huis woon wat haar seun vir haar gekoop het, Jolens Stoffels en Marthinus Paulse, wie se huise se dakke heeltemal afgeruk is.
Sylvester het ook in 'n verklaring gesê dat hy erg geraak is oor die omstandighede waarin sommige inwoners hulself na die reën bevind.
"Ons het tot dusver bereken dat daar ongeveer 116 eiendomme in Volmoed, GG-kamp, Black Joint-area en die Kanale, is waar strukture beskadig is."
In Volmoed het daar Saterdag ongeveer 30 mm in 15 minute geval terywul daar
24 mm reën in ander dele van Oudtshoorn gemeet is. Geen beserings is aangemeld nie.
Daar was ook verskeie kragonderbrekings in dele van Oudtshoorn, verskeie plase en Calitzdorp.
Op Oudtshoorn het ook 'n lekker bui reën geval en talle erwe oorstroom.
In Johansenstraat, Bridgton, waar 'n afvoerpyp glo al vir jare verstop is, moes inwoners bontstaan om die water uit hul huise te hou. Een van hulle, Mathewis de Laan, sê hy kla al sedeert 2010 maar niks word deur die munisipaliteit gedoen nie.
Volgens Phillip Seroux, gemeenskapswerker en voorsitter van die Plaaslike Besorgde Inwoners (PBI) op Oudtshoorn, is dit onaanvaarbaar. Hy vrees die dag wanneer 'n kind in daai dam water verdrink.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'