Die somersonnetjie het min genade getoon met die uitrol van klippe en die uitkap van doringbosse. Die wyse waarop die dorp se eerste volwaardige Droom-projek aangepak is getuig egter van elke betrokkene se geesdrif.
Oudtshoorn se dromers het ook reeds die aandag van die nasionale media getrek. `n SAUK-kameraspan het Saterdag onderhoude met verskeie van die dromers gevoer glo nadat hulle in die Oudtshoorn Courant daarvan gelees het. Die insetsel is later die aand tydens `n televisie nuusuitsending gebeeldsend.
Madeleine Miles, een van die dorp se dromers, vertel dat hulle ook verskeie navrae sedert die naweek ontvang het en dat belangstelling toeneem. Die Kerkstraat-swaaibrug is die ideale wegspringplek vir Oudtshoorn se dromers.
Met die Grobbelaarsrivier in vloed bied hierdie brug een van die min deurgange. Gedurende die droë somermaande is die bedeesde stroompie `n stille herinnering van die natuur se geweldige mag en die mens se pogings om dit te bowe te kom.
Die brug is `n belangrike baken vir toeriste asook `n noemenswaardige deel van die dorp se kultuur-historiese erfenis. Bouwerk aan die brug het in 1913 in aanvang geneem en is in 1914 voltooi. In 1964 is die brug tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
Die projek sal nog vir lank duur voor dit afgehandel is aangesien groot veranderinge in die vooruitsig gestel word. `n Piekniekarea op die rivieroewer word ook beplan.
More sal die groep weer doenig wees by die brug wanneer fase 2 in aanvang neem. Enigeen wat hand by wil sit is welkom om Madeleine Miles te kontak by 083 436 1153 of 044 272 6017 of stuur `n e-pos na droomoudtshoorn@gmail.com.

Die SAUK was ook Saterdag by om die droomspan op te neem en het onder andere met een van die ywerige werkers,Charles Basson, gesels oor die Droom vir Oudtshoorn-projek.

`n Groep leerders van Langenhoven Gimnasium het ook hul deel gedoen om die Droom vir Oudts-hoorn te laat realiseer. Foto's: Jacques Swart en Hannes Visser
ARTIKEL: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS