OUDTSHOORN NUUS - "Ek is Oudtshoorn."
Dit is die mantra of wekroep wat elke Oudtshoorniet elke dag vir homself of haarself moet herhaal as daar 'n positiewe beeld van die dorp uitgedra wil word.
Die negatiwiteit wat Oudtshoorn die afgelope aantal jare geteister het is stadig besig om te verander, maar daar is 'n groot verantwoordelikheid op elke inwoner se skouers om die proses te bespoedig.
Dit was een van die kerntemas van 'n strategiese sessie van die Oudtshoorn Besigheidskamer verlede week.
Volgens Jaco Vorster, bestuurslid van die besigheidskamer, moet elke inwoner van die dorp besef dat die beeld wat mense buite die dorp van Oudtshoorn vorm afhang van die boodskappe wat Oudtshoorniete uitdra.
"Hoe ons mense voel en dink oor die dorp is baie sigbaar op sosiale media, in gesprekke en in ons koerante.
"Mens kan verstaan waar dit vandaan kom. Die punt is egter dat die tyd verby is om negatief te praat en verdere negatiwiteit te skep.
"As ons werklik lief is vir hierdie dorp is dit nou die tyd om 'n ander realiteit te skep."
Vorster lê klem daarop dat 'n negatiewe gesindheid slegs meer negatiwiteit skep.
Gelukkig geld dieselfde ook vir 'n positiewe gesindheid, sê hy.
"Sodra meer mense hulle gesindheid positief verander sal die uitwerking op die dorp positief wees."
Die blommeprag buite die Prince Vincent gebou vergestalt 'n inisiatief van die Oudtshoorn Besigheidskamer om mense se persepsie oor die dorp positief te verander.
Die strategiese sessie van die besigheidska-mer volg op 'n uiters positiewe boodskap wat Felix Lotter, hoof finansiële beampte van Oudtshoorn munisipaliteit verlede week tydens 'n netwerkaand met gaste gedeel het.
Die ongeveer 60 sakemense wat die aand by die Queens Hotel bygewoon het was dit eens dat die vooruitsigte vir Oudtshoorn baie beter lyk as 'n jaar gelede.
Die voorsitter van die besigheidskamer, Gideon Badenhorst, het ook daarop gewys dat die omkeer in Oudtshoorn se situasie sigbaar is en dat daarop voortgebou moet word.
Vorster sê dit is maklik vir inwoners om vingers te wys na die munisipaliteit, die polisie, die verkeersafdelings en ander instellings as dinge nie verloop soos wat dit moet nie.
Hy sê egter mense dink dikwels nie daaraan om te vra wat hulle self kan doen om by te dra nie.
"Ek wonder dikwels na wie verwys mense as hulle praat van 'Oudtshoorn'. As ek van Oudtshoorn praat. praat ek mos van myself ook."
Dit is hier waar die term "Ek is Oudtshoorn" inslag vind, sê hy.
Volgens Vorster sal dit naïef wees om te maak asof niks verkeerd is nie.
"Natuurlik is daar probleme, natuurlik is daar nog gate in die paaie, natuurlik is daar nog politieke agendas, natuurlik is daar nog amptenare wat nie doen wat hulle moet nie, maar terselfdertyd gebeur daar baie positiewe goed ook."
As daar slegs na die aantal ongelukke die afgelope drie weke gekyk word en die mate waarin daaroor berig is, is dit duidelik hoe maklik een negatiewe element die dorp se beeld kan bepaal.
Vorster meen dat prominente mense in die gemeenskap 'n geweldige groot rol speel in persepsies wat die res van die land en selfs die buiteland van die dorp het.
"Ek is soms verstom oor goed wat mense op sosiale media kwytraak en skynbaar nie besef watter negatiewe uitwerking dit op die dorp het nie."
Verskeie mense met wie die Oudtshoorn Courant die afgelope week gesels het is moeg vir negatiewe nuus en het die inisiatief van die besigheidskamer om positiwiteit te bevorder verwelkom.
Dat 'n verandering nie oornag gaan plaasvind nie is duidelik, maar dat daar 'n hele aantal mense is wat bereid is om die positiewe projek te ondersteun is net so duidelik.
Vorster het die taak op homself geneem om die inisiatief wat deur die besigheidskamer geneem is verder te voer.
Die blommeprag buite die Prince Vincent gebou.
"Ek is oortuig daarvan dat die inwoners van Oudtshoorn die mag het om die persepsies oor hierdie dorp heeltemal om te swaai, die regte mense met die regte gesindheid moet net die leiding neem."
Volgens hom is die volgende stap om positiewe rolspelers te identifiseer en hulle insette en verbintenis tot verandering te kry.
"Ek weet dit gaan 'n proses wees, maar dit is nou die ideale geleentheid om die boodskap van 'Ek is Oudtshoorn' uit te dra en uit te bou."
Vorster doen 'n beroep op die media, die verskillende organisasies en besighede, maar veral op elke inwoner om te besin oor die boodskap wat oor die dorp uitgedra word.
(Die Oudtshoorn Courant is verbind tot hierdie inisiatief en nooi lesers uit om mense se suksesse en positiewe stories te deel.)
ARTIKEL & FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'